Dr Jan onthou as baanbreker by Nelmed-praktyk
Dr Jan het 10 dae ná sy 80ste verjaarsdag gesterf.
Die Laeveld rou ná die afsterwe van Dr Jan Joubert, wat vir altyd onthou sal word vir sy merkwaardige bydrae tot die mediese beroep en die gemeenskap. Voormalige kollegas, familielede en vriende het sy roudiens gister, 30 Julie, by die NG Gemeente Suid bygewoon om hulde aan hom te bring.
LEES OOK: ‘Buks of Niks’ laat ‘n groot leemte in die Laeveld
Sy vrou, Lia, het aan Laevelder bevestig dat hy weens gesondheidsprobleme oorlede is, 10 dae ná sy 80ste verjaardag.

Dr Jan het talle Laevelders oor dekades heen behandel en sal onthou word vir sy rustige geaardheid en uitgebreide ervaring.
“Hy is in Pretoria gebore en getoë en het van kleins af reeds sy merk op skool en universiteit gemaak,” vertel sy vrou, Lia.
“Ons paaie het by Tuks gekruis toe ons albei medies studeer het. Hy was ’n baie ernstige, nederige en beheerde man – presies die teenoorgestelde van my,” sê sy laggend.
LEES OOK: Familie onthou Onderberg pionier
Lia se familie was reeds in Mbombela gevestig en in haar finale studiejaar het sy ’n pos as huisdokter by die Rob Ferreira-hospitaal aanvaar, terwyl haar man in Bloemfontein begin werk het. Dr Jan het later ook by die Rob Ferreira-hospitaal aangesluit en hulle het saam diens by die Themba- en Shongwe-hospitaal gedoen.

“Ons het goed saamgewerk en ’n goeie balans gehad met sy rustige en my vinnige werkstyl,” sê Lia.
In 1988 het hulle saam met verskeie ander dokters ’n privaat praktyk begin en in 1994 Nelmed Medicross in Ferreirastraat gestig. Hy het saam met dokters soos Dr André Hollmann en Dr Joos Scheepers gewerk.
Tot sy aftrede in 2016 het Dr Jan en sy vrou meer as 40 jaar diens aan die mediese beroep gelewer. Lia sê hy was lief vir die natuur en het ’n aktiewe leefstyl gehandhaaf.
LEES OOK: Voormalige Laevelder met ”n hart groter as sy boarms’ sterf
“Hy was ’n vlieënier, het marathons gehardloop en was baie avontuurlustig.”
Talle huldeblyke het op sosiale media vir die geliefde dokter ingestroom.

Danie Celliers het gesê: “Dr Lia, mag die Here jou en jul geliefdes versterk deur dié moeilike, hartseer routydperk.”
Elisabeth Kruger sê: “Dr Lia, ek het ’n pad saam met julle gestap in Medicross se tyd. Ek vertrou dat julle toegevou word met vrede in julle harte.”
Hy word oorleef deur sy vrou, drie seuns, hul eggenote en sewe kleinkinders.
Lia sê sy sien daarna uit om in September na die blomme in die Kaap te gaan kyk – iets wat hulle weens sy moeilike gesondheidsjare nie saam kon doen nie.
