Interlaer ‘n groot sukses sê hoofde
Laerskool hoofde van deelnemende skole is dit eens - hierdie jaar se Interlaer was 'n reuse sukses.

• Mnr. Frannie van der Riet van Laerskool Witrivier sê:
Ek glo dat die geleentheid baie suksesvol afgeloop het. Ek wil graag aan God, wat goed vir ons gesorg het, dankie sê en dat die weer, nie te warm en nie te koud nie, perfek was. Dit was net genade van Bo.
Die skole wat deelgeneem het, was almal baie positief en het uitstekende sportmanskap getoon.
Dankie aan al die ouers wat net so ondersteunend en positief was.
Ons is dankbaar dat ons kon sorg dat die dag glad verloop het en dat elke item op tyd was.
• Mnr. Stephen van Baalen van Laerskool Laeveld skryf:
Mnr. Stephen van Baalen van Laerskool Laeveld skryf: Ons harte klop warm vir ons skool. Wat ‘n ongelooflike dag van wedywer, saamsing en saam geniet! Ons is trots op ons ondersteunende ouers, veggees van elke deelnemer en die pragtige karakter wat ons ondersteuners op die pawiljoen openbaar het. Ons dank ons Hemelse Vader wat hierdie geleentheid vir ons kinders geskep het. Baie geluk aan mnr. Frannie van der Riet en sy span vir ‘n puik byeenkoms. Laerskool Laeveld – julle is voorwaar ‘n wenspan. Ken Hom en leef!
• Mnr. Arrie Henn van Laerskool Nelspruit skryf:
Die Nellies het hulself op en van die baan af gehandhaaf. Ons toeskouers het “jamblikke, visblikke” geskree dat die kranse antwoord gee! Die atlete het weer vir topprestasies gesorg en hul potensiaal verwesenlik. In hierdie konteks het ons kinders karakter geopenbaar en ons baie trots gemaak. Knap gedaan, Nellies.
We would like to make use of this opportunity to congratulate White River on their 110th birthday.
They received us with open arms and treated us with the hospitality we have become accustomed to, and expect from our partners in education.
• Mnr. Cornelius Lemmer van Laerskool Lydenburg skryf:
Dit was ‘n wonderlike voorreg om deel van die jaarlikse interlaer, vir grootskole van die Laeveld te wees. Laerskool Witrivier se goeie organisasie van begin tot einde verdien hoë lof. Ons is gasvry ontvang en verder het ‘n pragtige atletiekveld ons begroet.
Alles was reg – alles wat ‘n atleet, afrigter en toeskouer kan begeer. Die atletiek was puik en het in ‘n goeie gees plaasgevind.



