BlogsOpinion

Waaraan heg jy die meeste waarde?

‘n Mens hoef nie altyd ‘n slim of goeie woord van bemoediging te hê nie.

Na die afgelope dae se reën en storms  kan mens nie help om gekonfronteer te word met die dinge verder as net alledaagse doenighede nie.

Sommige van ons is erger geraak deur die weerstomstandighede as ander. Is dit nie ironies dat die weer altyd ‘n aanknopingspunt vir gesprek is, wanneer mens nie weet wat om te sê nie – soms so ligtelik gebruik – en tog is die natuur een van die kragtigste faktore in ons daaglikse bestaan?

Die meerderheid van ons kan ons omgewing met ‘n besem en ‘n bietjie werk gou weer netjies en ordelik laat lyk.  Kom ons neem vandag ‘n oomblik van stilte om te dink aan diegene wie familielede verloor het in die swaar reëns. Die wat dakloos, en haweloos gelaat is. Die vir wie die weer dalk die vyand geraak het die afgelope paar weke.

Dit laat ons opnuut dink waaraan ons die meeste waarde heg in ons lewens. Is dit ons karre, huise of besittings wat in oomblikke van ons weggeruk kan word?

Sal ons kan staande bly wanneer rampe ons tref? Waarsonder kan ons eintlik klaarkom? Is ons meer besorg oor die mooi heining wat verpletter is deur ‘n boom en die kostes wat dit meebring, of is ons fokus op dankbaarheid dat dit darem net die muur was!

Vanuit ‘n terapeutiese perspektief het baie mense op hierdie stadium met verlies te make. Verlies gaan altyd met ‘n fisiese sowel as emosionele en geestelike vlak gepaard. Vir wie kan ons vandag bystaan op enige van hierdie drie vlakke?

Is daar iemand wat ‘n bord kos vandag sal waardeer, of dalk ‘n drukkie om te wys jy gee regtig om? Net ‘n woordjie om te se dinge sal weer okei wees? Baie maal dink mens – Maar ek weet nie wat om te sê nie. Wanneer dit inderwaarheid nie altyd nodig is om iets te sê nie.

‘n  Mens hoef nie altyd ‘n slim of goeie woord van bemoediging te hê nie. Soms is al wat ‘n mens nodig het net die teenwoordigheid van ‘n ander persoon. Net iemand wat wys dat “ek verstaan nie noodwendig waar deur jy gaan nie, maar ek is net hier” .

Aan diegene wat die donker kant van die lewe op hierdie stadium ervaar wil ek sê – neem een uur op ‘n slag en een dag op ‘n slag totdat die son weer vir jou uitkom agter die wolke. En ek dink ek praat namens die hele gemeenskap as ek sê julle is in ons gedagtes en gebede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button