Die Rietrot praat sport
Tot hier toe en nie verder nie! Aangename kennis aan onse avokado-replubliek.

My naam is Rietrot – die oë en ore van die Laeveld. Ek het maande gewik en geweeg of ek wel my bek moet rek, maar daar is sekere sakies wat ek graag wil aanraak. Glo dit of nie, daar is selfs dinge wat my hartkloppings gee.
Ek mag dalk sommige mense weekliks die horries inmaak, maar dan is dit maar so.
Rugby
Laerskoolrugby-mammas – dit is nie die wêreldbeker-eindstryd tussen die Springbokke en Nieu-Seeland nie, dit is skolerugby. Jou skril stemmetjie staan my nie aan nie en jy maak dit sommer ongesellig vir die ander toeskouers wat tjoepstil op die paviljoen sit.
Ag tog! Daardie gryshaar-oompie by die klubrugby-wedstryd tussen Witrivier en Malelane Saterdag, ek hoop van harte jy lees die stukkie skrywe – nie net was dit vrot rugby nie, maar jou kommentaar was van so aard dat ek maar my goedjies opgepak en geloop het.
Gholf
Dankie tog ek het vanjaar nog nie ‘n gholfdag bygewoon nie, want ‘n drinkerbroer staan my nie aan nie. Dit ontstel die Rietrot net nog meer as dit ten bate van bejaardes of minderbevoorregtes plaasvind. Die eerste bal het skaars dou voor dag getrek, dan staan die manne al met ‘n dop in die hand.
Atletiek
Tot my onsteltenis het ‘n betroubare bron die Rietrot oor die afgelope Skole Suid-Afrika Kampioenskappe ingelig. Ons spog-atlete is as die underdogs gebrandmerk omdat die grootbase in die eiergebou nie hul behoeftes op die hart dra nie – daar was geen oefenkampe voor die tyd nie en hulle moes in hul skole-atletiekdrag deelneem. Die bestuurspan van Mpumalanga het met 160 atlete voor hulle gesit en sommiges vir die eerste keer in die oë gekyk. ‘n Leerder van ‘n bekende skool in Nelspruit is van die baan afgejaag omdat sy nie die ‘regte’ drag aangehad het nie. Die Rietrot is tans besig om met een van die grootkoppe te praat en gaan nie langer die probleem duld nie.
Stoei
Die Nelspruit Stoei-akademie sit ‘n glimlag op die Rietrot se gesig. Onse avokado-republiek moet tog kennis van hulle neem. Die klub het ‘n jaar terug sy deure oopgemaak en in ‘n kort tydjie soveel vermag. Vir julle wil die Rietrot een ding sê – hou so aan. Hansie, vir jou en jou span wil ek graag sê, welgedaan.
Wees versigtig oor wat jy dink en sê, die Rietrot hou jou dop!
Vrede.
