
Waar bestee jy die meeste van jou ure per dag? Die meeste van ons bestee die meeste van ons tyd by ons werk. As dit in jou lewe ook so is en jy hou nie van wat jy daar doen nie, stel ek voor jy staan ‘n tydjie af om ernstig hieroor na te dink.
Daagliks wanneer ek rondry, sien ek in motor na motor mense met ongelukkige uitdrukkings op hulle gesigte. Dan wonder mens waarom ALMAL so lyk? Daar is sekerlik baie redes. Maar nou is dit ook so dat dit wat ‘n mens in jou binneste voel (ongelukkigheid, frustrasie, vreugde, vrede) in jou oë en ook op jou gesig reflekteer. Iets wat ek daagliks in die praktyk teëkom, is die feit dat mense dikwels ‘n bestaan maak uit iets wat hulle haat, oftewel glad nie geniet om te doen nie.
Daar is min dinge wat ‘n siel so doodmaak as om jouself elke dag uit die bed uit te moet sleep om ‘n werk te gaan doen waarvan jy nie hou nie. Daarenteen is dit ‘n ongelooflike seën om elke dag uit te sien daarna om te gaan werk.
Doen jy ‘n werk wat genoeg geld inbring om te sorg vir ‘n gemaklike lewe, maar jy verag elke minuut daarvan? Of doen jy moontlik ‘n werk waarin jy maar slegs ‘bestaan’ – nie werklik lééf nie, maar net saam met die stroom dryf as’t ware. Wat het geword van jou drome vir die toekoms? Het jy jou hart gevolg, of slegs jou kop – of iemand anders se kop?
Vir seker het elke werk sy uitdagings en ons moet almal soms daardeur wroeg. Maar as elke dag by die werk ‘n straf is moet jy weer besin. Miskien is jy slegs in ‘n beroep want jy wou jou ouers trots maak of omdat dit van jou verwag is om ‘n ‘aanvaarbare rigting’ te volg en nie dit waarvoor jou hart roep nie.
Hoe beïnvloed jou werk jou verhoudings met jou naasbestaandes? Wat is jou houding wanneer jy tuis kom na ‘n dag se werk? Ontgeld die arme hond of dalk jou man/vrou en kinders jou iesegrimmigheid? Monitor die impak wat dit op jou algehele funksionering het en oorweeg dit baie mooi.
Dit is nooit te laat om jou passie te ontdek en na te volg nie!
Ongelukkig gebeur dit dat baie mense nie eens weet waarvan hulle hou nie en die gevolg is dat hulle nie weet waar om te begin soek na hul passies nie.
Dalk het jy wel alles in jou loopbaan bereik wat jy graag wou en is jy waar jy gedroom het om te wees, maar bevind jy jouself nou by ‘n plek waar jy jouself afvra: Waarheen nou? Is dit nou dit? ‘n Mens verander soveel op mens se lewensreis en dalk is daar nog dinge wat jy altyd wou probeer – maar nou dink jy dis dalk heeltemal te laat; jy is nou te bang.
Dalk is nou nie die tyd vir jou om ‘n verandering te maak nie, maar moontlik kan jy verandering bring in ‘n morbiede werksomgewing deur die houding wat jy inneem en dit wat jy uitstraal.
Moenie ‘n mens wees wat net van dag tot dag aanploeter nie. En moenie dink omdat jy afgetree is jy beteken niks meer vir iemand nie!
Ek wil vandag vir elkeen wat hier lees, sê dat jy spesiaal is en dat jy saakmaak – ongeag in watter omstandighede jy jouself bevind. Niks hou vir ewig aan nie. Dinge kán verander.
Sal ons ‘n gelukkiger samelewing kan hê as meer mense ‘n werk beoefen wat hulle werklik geniet – of die beste maak van ‘n slegte situasie tot die tyd van verandering aanbreek?
Ek sluit af met hierdie wyse woorde: Verbeelding is belangriker as kennis. Verbeelding is wat ons kan wees. – Albert Einstein
