BlogsOpinion

“Vandag kan mamma nie,” is heel aanvaarbaar

Ek dink dis tyd om die ouers ‘n bietjie krediet te gee vir hul pogings en ook om hulle bietjie te onderskraag.

Ons het nou al telkemale gepraat oor hoe ouers kinders moet hanteer of nie hanteer nie en hoe belangrik ons invloed op hul lewens is en wat ons moontlik reg of verkeerd doen.   Maar ek dink dis tyd om die ouers ‘n bietjie krediet te gee vir hul pogings en ook om hulle bietjie te onderskraag. Alles wat verkeerd gaan in ‘n gesin kan tog nie net die ouers se skuld of verantwoordelikheid wees nie. Ja, ons is wel diè wat die voorbeeld moet wees en die leiding moet gee, maar hoeveel verantwoordelikheid word vir kinders gegee vir hulle rolle in die gesin?

Sommige ouers probeer so hard om volgens die boek te doen en perfekte ouers te wees, soms so erg dat die kind geen verantwoordelikheid ontwikkel vir sy/haar rol en bydrae nie. Hoeveel gevalle bestaan daar van hersaamgestelde gesinne, waar ouers só skuldig voel dat hulle nie vir die kind die perfekte gesin in sy oorspronklike vorm kon gee nie. Hulle voel dan so jammer vir die kind en probeer oorkompenseer daarvoor deur moontlik gebrekkige dissipline en dalk ook te veel sakgeld – soms dink hulle selfs hulle behoort elke minuut aan die kind te spandeer.

Ja, ons moet ons kinders onvoorwaardelik liefhê en so streef ons ook om ons kinders te leer om dieselfde te doen – om die ouer ook ‘n kans op geluk te gun en nie net al die tyd te ontvang nie, omdat hulle voel die ouer ‘skuld’ hulle want hulle het nie die ‘perfekte’ lewe gehad waarop hulle ‘geregtig’ is nie. Sê jou ouer kind(ers) ooit vir jou dat hulle hoop dat jy as ouer ook gelukkig is? Vra hulle ooit vir jou wat hulle kan doen om jou ook gelukkig te maak?

Meer nog – leer ons ons kinders om ook sensitief vir ander se behoeftes te wees, of het ons al so bederf, getroos en gepaai dat hulle daardeur afgelei het dat slegs hulle behoeftes vervul behoort te word en dat dit die ouer se enigste of belangrikste rol in hulle lewens is?

Ouers, julle hoef nie skuldig te voel om soms te sê, “Vandag kan mamma nie”, of “Vandag is mamma moeg en sal dit waardeer as jy vir my ‘n koppie tee maak”. Ons moet oppas dat ons kinders begin dink hulle verdien al jou tyd, al jou energie, al jou geld en al jou aandag (dalk selfs ten koste van boeties en sussies in die gesin). Dit is wat sovele kere in enkelouer huise gebeur.

Mamma of Pappa, jy kan nie al die skuld probeer dra omdat jou huwelik misluk het of vir watter rede ook al jy die enigste ouer is nie. Die dag wanneer die seisoene vir jou ten goede draai, moet jou kind nie voel dat jy hom/haar ‘n onreg aandoen omdat aandag gedeel moet word nie. Hy/sy moet kan bly wees dat jy weer geluk vind en verder ook geleer kan word om die positiewe te sien in veranderende omstandighede. Nuwe mense kan nuwe seën in hul lewens beteken en is nie bloot bedreigings nie!

Moenie jou kinders so pamperlang dat hulle dink dis wat jy vir die res van hul lewens aan hulle verskuldig is nie. Ouers het ook ‘n reg op geluk –hoewel jou kinders altyd ‘n baie belangrike rol daarin sal speel. Daaraan moet hulle nooit twyfel nie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button