
MBOMBELA – Ons streek se 17-jariges is ‘n uiteenlopende groep mense. Laevelder het hulle gevra om skryfstukke te stuur waarin hulle hul mening lug oor die toekoms van ons land. Die leerders se standpunte was so uiteenlopend soos die individue wat deel vorm van ons reënboognasie.
Ilicia van Breda en Wessel Muller is beide verbonde aan Hoërskool Nelspruit. Ilicia voel baie positief oor Suid-Afrika en beskryf ons land as volg:
“‘n Land geklee in swart en wit waarvan die skoonheid ‘n mens se verstand te bowe gaan. Hartland. My land. Suid-Afrika. Van die tafeldoek wat oor Tafelberg drapeer tot die asemrowendheid van die Groot 5.” Sy gesels oor ons mense se gees wanneer ons ‘n stadion vul wat in ons landsvlag se kleure geverf is en uit volle bors die volkslied sing.
Alhoewel daar verwysing gemaak word na ons land se seer verlede, meen Ilicia dat ons helde soos Nelson Mandela vir ons onblusbare hoop gegee het. “Ons is op pad na ‘n toekoms van vrede, vryheid, verdraagsaamheid en gelykheid. Daar is hoop wat brand soos ‘n vlam in die harte van alle Suid-Afrikaners. ‘n Wilde veldbrand van hoop sal versprei.”
Wessel vergelyk homself met ‘n muis in ‘n kat se kloue – alhoewel die muis nou en dan dink dat hy kan ontsnap, lyk dit asof die noodlot die oorhand het. Hy verwys na die vele uitdagings wat vandag se jeug in die gesig staar: dit is volgens Wessel moeilik om keuring te kry vir sekere studierigtings, Afrikaans blyk in gedrang te wees en kwotastelsels het ‘n negatiewe invloed op die toekoms van menige jong sportster.
Thuli Madonsela is die heldin wat vir Wessel hoop gee vir Suid-Afrika. Hy beskryf haar as ‘n helder ster in ‘n donker hemelruim wat vergoed vir die president se flaters en die Grondwet laat geld.
“Ten spyte van die negatiwiteit hoop ek tog dat die muis ‘n kans sal kry om te ontsnap. Die hoop bly bestaan dat die reënboognasie sal triomfeer ten spyte van die onweerswolke op die horison.”
Lees vandag se Laevelder vir meer.
