BlogsLife is beautiful - with LiezelOpinion

Boek-opinie: DRAALNOOT VIR ‘N JANFISKAAL deur Henry Jack Cloete

Op bladsy 220 sê Lea vir Daniël: “Dis fine, ek skat jy verstaan nie. Ek het gedink jy verstaan, maar duidelik verstaan jy nié.” Sy kon dit net sowel vir my, Liezel, gesê het. DRAALNOOT VIR 'N JANFISKAAL deur Henry Jack Cloete is een van daardie boeke waaroor jy óf ekstaties mal is óf waarvan jy glad nie hou nie.

Die vrou kyk weer weg. “Ek vermoed Daniël Roberts is bloot ʼn profeet. Ander glo hy is ‘n messias. Ander… wel, ek weet nie. Ek maak maar net voorraad.”

Kosie frons. “Tante,” vra hy, “gun my ‘n oplossing vir hierdie onopgeloste vraagstuk: kan ‘n man volledig teenwoordig in ‘n tantriese straat met ‘n dame of ‘n man verkeer en verkeervloei reguleer indien sy liefdesgeneraal met ‘n eenstuk-hoed-en-jas-en-serp geklee is?”

Die vrou glimlag. “Met hierdie gebreide reënboog-kondome, ja. Indien, natuurlik, die liefdesgeneraal se motiverings opreg is en die weermag onthou dat die konsep van regulering nie welkom is in die sfeer van die tantra nie.” 

 

Ek is nie ‘n letterkundige of akademikus nie. Ek is ‘n leser. ‘n Entoesiastiese leser. Ek lees vir onspanning, plesier en omdat ek deurlopend nuuskierig is oor alles en nog wat. Ek hou van woorde. Ek hou van taal. ‘n Boek het die vermoë om my vir kort rukkies op ‘n slag uit die realiteit te ruk en weg te voer na iets vreemd anders – dikwels na ‘n wêreld  waarvan ek nog nooit voorheen bewus was nie.

Ek weet waarom ek lees en dit laat my wonder waarom skrywers skryf.

Op die webwerf https://authorspromoter.com/why-writers-write/ word die redes waarom skrywers skryf, in ‘n studie ondersoek. Die redes is uiteenlopend en geen spesifieke een staan kop en skouers bo die ander uit nie. 15% van skrywers skryf omdat dit ‘n manier is om hul idees, gedagtes en gevoelens weer te gee.

13% van skrywers skryf omdat hulle nie kan lewe as hulle nie skryf nie. Die skrywer Cynthia MacGregor stel dit so: “It’s who I am. It’s what I love. I even write for fun on top of writing for a living. I couldn’t NOT write. I need to write like I need to breathe, to eat, it’s vital to me.” Interessant. (Net so terloops: My eie blog se naam is ekwilskryf. Vir dieselfde rede.)

Ander skrywers skryf omdat hulle ander wil help, opvoed en beïnvloed, om vleuels aan hul kleurryke verbeeldings te gee, omdat dit terapeuties is en omdat hulle hulself in hul skryfwerk wil verewig. ‘n Klein groepie van 2% skryf omdat hulle deur omstandighede gedwing word. Iets het in hul lewens gebeur en hulle wil die gebeurtenis – dikwels ʼn onreg – openbaar maak.

Nou kom ons by die boek Draalnoot vir ‘n janfiskaal deur Henry Jack Cloete.

Die uitgewers, Queillerie, bemark die boek soos volg: “Vir die gebruikers van die webwerf Fermata.com is selfmoordvideo’s iets om gedeel en gevier te word – die mees egte ervaring wat hulle kan beleef, en ook wat hulle kan skep. Daniël Roberts, eienaar en bestuurder van dié besonder gewilde webwerf, verkoop dit ook so aan sy gebruikers, maar wanneer hy vir die eerste maal in die openbaar oor Fermata.com praat op ’n televisiekletsprogram, gee dit aanleiding tot ‘n reeks verstommende gebeure wat sy en ander se lewens onherroeplik verander. ‘n Donker, meesleurende tragikomedie. Dit is Henry Jack Cloete – skrywer, joernalis en musikant – se eerste roman.”

As jy ‘n behoorlike, professionele boekresensie oor Draalnoot vir ʼn janfiskaal wil lees, stel ek voor dat jy Joan Hambidge se blog by https://joanhambidge.blogspot.com/2014/08/henry-jack-cloete-draalnoot-vir-n.html besoek.

Hier gee ek maar net my ervaring van die boek, my persoonlike opinie.

Op bladsy 220 sê Lea vir Daniël: “Dis fine, ek skat jy verstaan nie. Ek het gedink jy verstaan, maar duidelik verstaan jy nié.” Sy kon dit net sowel vir my gesê het. Die taalgebruik in die boek is deurgaans hoogdawerend en verwarrend. Dít is iets wat ek dikwels by Afrikaanse skrywers teëkom en dit steek my dwars in die krop. Om elke sin twee male te moet lees voor ek, indien enigsins, die betekenis verstaan, bevorder nie die redes waarom ek lees nie. En dan verwys ek nie na die tong in die kies taalregister van die twee karakters Georg en Kosie nie. Cloete skryf op bladsy 35: “Wat hy vinnig agtergekom het, was dat moontlik die belangrikste element hiérvan nie kwantifiseerbaar is nie. ‘n Mens kan nie getalle optrek oor implisiete druk tot homogeniteit en die obsessie met die alledaagse nie.” Ek wonder wat die man bedoel. Dalk is my woordeskat en begrip net té beperk. Tog dink ek dit is ‘n meesterlike kuns om só te skryf dat die leser die storielyn en skrywer se idees maklik snap. Wil ‘n skrywer regtig hê dat net  taalvaardige wonderkinders sy werk verstaan en waardeer?

Nadat ek die boek gelees het, het ek ‘n onderhoud met die skrywer op YouTube by https://www.youtube.com/watch?v=KhLsbnmMqMU geluister. Dit was interessant en het lig op die temas en bedoeling gewerp. Joan Hambidge se resensie het ook gehelp.

‘n Paar gedagtes:

Cloete spreek belangrike temas in sy boek aan. Alhoewel hy volhou dat “selfmoord” nie die hooftema van die boek is nie, dink ek, as die gewone leser, dat dit wél ʼn belangrike tema is. Selfmoord is vir menige mens wat al daarmee te doen gekry het sensitief en hy gaan ietwat onverskillig en bykans komies daarmee om. Dit mag dalk sommige lesers ontstel.

Die storielyn word kort-kort onderbreek deur surrealistiese tonele. So, byvoorbeeld, word een van die karakters, Simon, aangeval deur die gewapende vleuel van die Afrikaanse Christelike Vroue Vereniging. Die leier van die groep steek per ongeluk Simon se oog uit en trap daarop. In weerwraak steek hy háár oog uit en laat haar daarop trap. Die toneel het lukraak uit die lug geval. Skielik en onverwags. Sonder enige duidelike relevansie. Dit is amper asof dit vir die pret en sensasie ingesit is. Ek het ongelukkig nie erg daaraan nie. Maar ander sal dit dalk weer amusant, tong in die kies en relevant vind.

Die een tema in die boek wat ek wel interessant en relevant gevind het, is die feit dat en in watter mate die internet ons lewens oorgeneem het. Die internet het deel van ons alledaagse realiteit geword. Sosiale media en mense se verskillende reaksies daarop het ook ons bestaan geïnfiltreer – of jy nou daarvan hou of nie. Die internet forseer ons nie net om kennis te neem van dinge waarvan ons nie geweet het nie maar ook van dinge waarvan ons weet maar nie oor dink nie. Enigiemand kan hulself op die internet verewig. Niks is meer regtig verganklik nie. Alles kan voortbestaan, al is dit nie in die vlees nie.

Nou ja, ek het nie die boek geniet in die eenvoudige, “lekker” sin van die woord nie. Tog is dit goed om te weet dat daar vir alle soorte en tale ‘n mark in Suid-Afrika is.

NS: Kan iemand my dalk laat weet wat “tantriese” beteken…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button