
“Officer, the dog ate my ID.”
Hy wou my nie glo nie, maar ek kon hom nie juis kwalik neem nie. Ek sou ook nie. Gelukkig het ek ‘n beëdigde verklaring van die Brooklyn SAPD byderhand gehad wat die waarheid kon staaf. Want om toegesluit te word terwyl jy Middelburg toe ry om jou lisiensietoets te gaan aflê is niemand se idee van pret nie. Nadat ek die verklaring opgespoor het, moes die verkeerskonstabel na my argument ook luister. “Madam. I asked you for your learner’s licence. You gave me an affidavit saying a dog ate your ID. How does this help me?” Ek het verduidelik dat ek my leerlinglisensie in my ID-boekie bêre en hy het dit so verstaan en my laat verder ry.
Ek het toe my lisensie gekry, dankie. Dit wás poging nommer dertien.
Die verkeerskonstabel kon veral nie sy lag hou toe ek net vir die effek ‘n laaste keer bulder: “Heidi ate my ID!” nie.
Heidi is ‘n massiewe boerboel wat ‘n erf met my, my oom en my tannie gedeel het in 2012. Ek en hierdie reus van 87 kilogram deel ‘n voorliefde vir ham. Hieraan het ek nie gedink toe ek ‘n halwe ham verorber en toe aan my ID vat nie.
Dis eers die Sondagoggend, so kerktyd se kant, wat dit my toe tref dat ek my groen stukkie identiteit lanklaas onder oë gehad het. ‘n Soektog is van stapel gestuur en ‘n laaste vierkante meter van die erf was oor: Heidi se hondehok.
Ek is handeviervoet in die hondehok in en sowaar: die gekoude stukkies van my identiteit wat nié iewers in Heidi se derms was nie, het in Heidi se kenmerkende spoegdamme in die hok gelê. Kyk nê, toe maak dit die boerboel in my wakker.
Die naaste visplakkie het gedeug en ek het soos ‘n bas begin bulder en gevloek soos ‘n matroos. Soos ‘n eenvrou-weermag storm ek toe op haar af. Ek weet nie of ek op twee of vier bene was nie. Dalk het ek ‘n blackout beleef – ek sien dis weer ‘n gewilde verweer onder beskuldigdes.
Ons bure, die metodistekerk, het skielik ophou sing en ek het maar aanhou vloek. Toe begin Heidi terugbaklei. Daar is níks meer vreesaanjaend as jou eie identiteit wat vir jou terugblaf nie. Die visplakkie is oor die muur gegooi (hoop nie hy’t ‘n ouderling of diaken getref nie) en ek het ‘n u-draai gemaak en weggehardloop.
My identiteitskrisis het sy doel gedien – as dit nie vir Heidi was wat my ID geëet het nie, sou ek vir ‘n veertiende lisensiepoging in die ry moes staan!
Lees vorige blog-inskrywings in hierdie reeks hier:
Om in Mazabuka-town uit te kom, is ‘n uitdaging
“Dís hoe jy ‘n rugbyspeler vang,” het sy gedink.
