BlogsOpinion

Om in ‘n badkamer vas te sit is ámper so erg as wat dit kan gaan

Dit maak nie saak hoe groot die nood is nie. Ek sal nié weer koek sny en die mans se badkamer annekseer nie.

Draaiboekskrywers en fliekregisseurs geniet dit vreeslik om hulle karakters in ongemaklike situasies te dompel. Iets aan iemand wat iets wil óórkom wanneer ‘n ongemaklike situasie hom afspeel, is maar net skreeusnaaks. Ek is glad nie ‘n aanhanger van badkamer-humor nie, maar het al ‘n paar ongemaklike situasies in hierdie ongemaklike vertrekkie beleef.

Dit was Oktober, 1994 en die vyfjarige pokkeldogtertjie met die seuntjie-haarstyl is vir die eerste keer kleuterskool toe. Hier teen elfuur het ek begin verstaan dat alles in groepsverband gebeur – selfs wanneer ‘n mens badkamer toe gaan. Die apieklas se dogtertjies moes almal handjies vashou en in ‘n ry aantree, waarna die een kind na die ander kon badkamer toe gaan. Daar was een groot flater in hierdie plan: elkeen wat die fasiliteit gebruik, kon kies wie na haar die vooreg sou hê. Nadat almal klaar is, kom die seuntjies aan die beurt.

Dit gebeur toe so dat niemand my kies nie en ek heel laaste by die toilet uitkom. Intussen het Juffrou Mariëtte die seuntjies in ‘n ry laat aantree en een voorbarige mannetjie maak toe sommer die deur oop terwyl ek nog daar sit en blom.

“Meisie, wie’s jy?” vra hy terwyl ek probeer toe hou. Nog drie gesiggies verskyn toe in die deur. “Dis ‘n meisie, né?” Ek knik. “Ons wil nou piepie! Klim af” eis die een.

“Ek’s nie klaar nie!” Kap ek terug en skop die deur toe. Die vier is toe daaruit en ek stap toe maar skaam-skaam by die badkamer uit om maatjies te gaan probeer maak met ander lede van die evasgeslag.

Kort hierna is ek in my Ouma se badkamer toegesluit. Hoe ek dit reggekry het, weet ek steeds nie. Die houtdeur se sleutel was seker maar ‘n bietjie oud. Ons het wegkruipertjie gespeel en ek reken toe dat niemand my sommer in die badkamer sal kom soek nie. Wegkruipertjie het my glad nie geïnteresseer nie en ek is met ‘n mandjie vol speelgoed badkamer toe om in vrede te gaan pop speel. Die deur word toe gesluit, net om veilig te wees. Ek kry dit toe reg om die sleutel morsaf te breek in die sleutelgat. Om vir twee ure in ‘n badkamer vas te sit, is net vir die eerste halfuur amusant.

‘n Reddingspoging vir die hele gesin is geloods en ek is vrygelaat.

Ek het nog altyd ‘n manier om per ongeluk in die verkeerde badkamer in te stap. Ek het op skool en universiteit dan en wan per ongeluk die verkeerde stokmannetjie se deur oopgestoot. Dan sou ek maar my oë toeknyp en agteruitskarrel. Ek is dan vinnig vort met ‘n “sorrie-sorrie-sorrie!”

Eergisteraand se flater was egter in ‘n klas van sy eie. Ons het in ‘n restaurant gesit en eet en, soos Murphy dit beveel het, wil al die dames op één slag ‘n draai gaan stap.  Dit situasie was van so ‘n aard dat ek net nie in die ry kon – óf wou – staan nie.

Die mans se badkamer sou deug.

Wat ek nie opgemerk het nie, was dat ‘n prominente landdros en regsgeleerde dieselfde gedagte gehad het. Die ding is nou net – hy mog daar gewees het, want dit ís immers die mans se badkamer.

En hy is hoeka ‘n man.

Salig onbewus van die feit dat daar ‘n man in die mansbadkamer is, stoot ek toe die toilethokkie se deur oop en stap uit. Ek het geloop en sing – It’s raining men. Normaalweg kyk ‘n mens niemand in ‘n badkamer stip in die oë nie, maar toe ek weer sien maak ek oogkontak met die laaste persoon wat ek wil hê my in ‘n mansbadkamer moet betrap – die einste landdros.

“Sorrie-sorrie-sorrie, u edelagbare” moes die ding doen toe ek daar uitskarrel.

Dames, dit maak nie saak hoe groot die nood is nie. Leer saam met my ‘n les hieruit: bly in jou eie ry, voordat jy die reg in die oë moet kyk op ‘n besonder ongemakilike manier.

Lees vorige insetsels hier:

Die begin van die einde…

Om in Mazabuka uit te kom is ‘n uitdaging

‘Dis hoe jy ‘n rugbyspeler vang,’ het sy gedink

Konstabel, Heidi het my ID geëet

Van Obese na NOBESE – ‘n resep vir chaos

Ai tog, wat ‘n naweek!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button