
“Juffrou Eloff, agtien persent vir jou eerste trigonometrie toets. Ag-tien!”
Toe roep sy my vorentoe.
Nou moet julle mooi verstaan. Juffrou Eloff het pas van China af teruggekeer waar sy vir koorsang was en sodoende het sy die Trig 101-klas misgeloop. Behalwe vir die feit dat ek nie veel van driehoeke geweet het nie, pla die fynere besonderhede my tot vandag toe nie veel nie. Solank hy drie hoeke het, is die saak reg.
“Juffrou Eloff, wat wil jy eendag doen?” vra sy terwyl sy teen ‘n vyf-en-veertig grade hoek op my neerkyk. “Bid,” antwoord ek. “Nee man, wat wil jy gaan studeer?” Jané besef toe dat daar nie ‘n goeie begrip is wat die halwe woord kan opskep nie. “Juffrou hoor mos nou, sy gaan teologie studeer.”
‘n Omgee-gesprek onder die boom het gevolg en ek het verduidelik dat ek ‘n prokureur of advokaat wil word. Sy het my sterkte toegewens vir die res van my lewenspad en my voorgestel aan my nuwe wiskunde-onderwyseres – dié een was vir die standaard-graadgroep verantwoordelik.
Wiskunde was een van drie eksamens wat my lewe bemoeilik het. My bestuurslisensie is na die hóéveelste poging verkry en ek het tot vandag toe nog nie my laaste eksamen geslaag wat ‘n voorvereiste vir toelating as prokureur is nie. Maar ek stoom moedig voort, omdat hierdie kwalifikasie baie vir my loopbaan as hofverslaggewer sal beteken.
Dit was toe ek by die 10de bestuurskool onder leiding van ene Oom Pottie aanmeld dat hy my posisie vir my verduidelik het. “Poppie, jy kan nie bestuur nie. As jy terugkom, is dit met ‘n automatic. Anders kom jy nie terug nie, gehoor?” Dít nadat ek al vir twee jaar lank gereeld geoefen het.
Die bestuurslisensie-drama het in 2007 posgevat toe my ouers na Zambië geïmmigreer het. Die kar waarmee ek moes leer bestuur het van Bloemfontein af gekom, maar sy battery het aanhou vrek. ‘n Peperduur batterylaaier is aangeskaf en ons is oor die eerste hekkie. Ek het ‘n lisensieafspraak in Centurion gehad, wat nie gerealiseer het nie omdat ek ontydig met archeyes gediagnoseer is.
Kort hierna het ek ‘n afspraak gemaak om my lisensietoets in Nylstroom af te lê. Toe ons daar opdaag, word ons deur ‘n sproetgesig boetebessie begroet met ‘n eenlyn-antwoord: “Jammer, geen eksamens vandag nie. Ons is toe.” My ma het teruggekap: “Ja, ek kan sien jy is toe!” Ons is terug Pretoria toe vir die maak van nog ‘n afspraak.
28 Februarie 2012 sou die dag wees. Die kardiewe het ongelukkig dieselfde gedagte gehad en my Toyota Corolla is op 14 Februarie gesteel. Daarna was ek vir ‘n paar maande karloos en het ek met bestuurskole se karre geoefen. Ek dink hulle het dalk hul versekeringspolisse vir hierdie tydperk woes opgegradeer. Teen Augustus het ek ‘n nuwe kar gehad en dié keer is ek Delmas toe.
My kar se ratkas het ‘n dag voor die tyd gebreek en die lisensiepoging was van die baan. Om op so ‘n kort kennisgewing ‘n outomatiese kar te kry is moeilik en ek was teen hierdie tyd baie gemaklik daarmee om sonder ‘n lisensie deur die lewe te gaan.
Ek het uiteindelik in Maart 2012 my bestuurslisensie gekry, maar mag net agter die stuur van outomatiese motorkarre inklim.
Nou is daar nog een berg wat voor my lê. Voordat ‘n mens toegelaat word om ‘n prokureur te word, moet jy vier eksamens slaag. Ek het een oor – boedeladministrasie. Ek moet in Februarie weer in ‘n saal gaan sit om ‘n fiktiewe gewese persoon se boedel te beredder, nadat ek dit nou al drie keer nié reg kon kry nie.
Dalk het ek maar net ‘n voorliefde vir dinge wat nog lewe.
Hoe dit ookal sy, probeer blyk die beste geweer te wees. Die verkeerspolisie se rekords getuig daarvan.
Lees vorige blog-inskrywings hier:
