BlogsOpinion

Dit móét my voorsate wees

Ek is ook eenmaal in die wildtuin deur 'n dier gegaps. Hy't groter as ek geskrik.

As kind het ek my ouers gereeld met Childline gedreig alhoewel hulle my nooit rede gegee het om dit te doen nie. Ek onthou die nommer tot vandag toe – 08000-55-555. Klein Leentjie sou ook nie die knie buig voor ‘n pak slae nie. Die ouer aan diens het al geweet dat die laaste hou sonder uitsondering afgerond is met ‘n tirade. Ek het dan vrieskas toe gehardloop en ‘n pak ertjies gaan uithaal waarop ek met groot drama in die middel van die kombuis gaan sit en huil het. Ek was oortuig daarvan dat my ouers my mishandel.
Vandag besef ek natuurlik watter monster ek sou gewees het as ek nie slae gekry het nie. Ek is eenvoudig buite beheer. Ek blameer my voorgeslagte wat toe ek ses maande oud was kom kennis maak het in die Nasionale Krugerwildtuin. Die storie kom van hoorsê, maar dit maak vir my sin.
Ons het almal in my tant Johanna se kampeerwa teen minder as 50 kilometer per uur in die wildtuin rondgery. Ek was nege maande oud, maar aanvaar daar is seker eiers, toebroodjies, water en sap in ‘n mandjie gepak. Alhoewel dit Julie was, was die Laeveldse hitte een te veel vir die Hoëvelders. Iemand het Ouma Baby se goue reël oortree.
“Geen oop vensters in die wildtuin nie,” het sy altyd gewaarsku. “Netnou glip ‘n bobbejaan daardeur.” Ouma se waarskuwing was geen ouvroustorie nie.
Baba Leentjie het rustig op die bankie gelê en seker maar vir die dak gekyk. Ek kan nie regtig onthou nie. Ek verneem dat die karre voor ons tot stilstand gekom het. Terwyl almal probeer sien het wat nou eintlik te siene is, het ene Bobbejaan my herken en hy is deur die venster tot binne-in die kampeerwa. Ouma Baby het gesien hoe hy my gryp en sy het die naaste wapen – ‘n skinkbord – gegryp. Sy het die aap katswink geslaan voordat ons nog stambome kon vergelyk en hy is glo blou boude en al daar weg. Hy het my nie eers saamgevat bos toe nie – verbeel jou!
Hulle sê ek was nooit weer dieselfde nie. Die bobbejaan ook nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button