BlogsOpinion

Laerskoolatletiek – hoe op aarde het ek dit oorleef?

Wanneer ek sien hoe die kinders soos skapies om die atletiekbaan hardloop - so asof dit lekker is - onthou ek dat ek ook eenmaal onder daardie wanindruk verkeer het. Vir ongeveer dertig sekondes.

Dis somer in die Laeveld en die arme kinders moet aan atletiekbyeenkomste deelneem. Dat hulle dit sowaar vrywilliglik doen, gaan my verstand te bowe.

Tussen die ouderdomme van sewe en 14 was ek ook een van die arme goed. En nee, nie ses en 13 nie, sewe en 14. Ek moes gr. R herhaal omdat ek nie geweet het waar links en regs gesit het nie. My horlosie is tot vandag toe die kroeknota wat die verskil aandui. Wanneer ek ‘n bottel of kraan moet oop- of toedraai, geld die rympie: “Righty tighty, lefty loosey.”

Toe ek uiteindelik skool toe gaan, het ek darem goed reggekom. Totdat sportperiode aangebreek het. Ons was almal daarvan oortuig dat ons tussen twee wit lyne op warm Hoedspruit-gras wíl hardloop. Eers 60 meter. Dan 80 meter en dan 100 meter. Daarna is ek oortuig dat langafstande lekker sou wees.

Kom ek vertel jou wat ís lekker: Tannie Celéste Petersen se Yankees by die snoepie. Oe, en ysies! Ek het vinnig agter die kap van die byl gekom en besef dat ek geen atleet is nie en het die kuns van proe vervolmaak. Elke lekkerny is seer waardeer en ek het ‘n snoepie-connoisseur geword. Die snoepie het nie geweet wat hom getref het nie en klein Helene’tjie was gou groot Helene – te dankie aan al die Yankees. Dit was duidelik dat ek nooit ‘n lang- óf kortafstandatleet sou word nie en ek het maar gewag totdat ek oud genoeg geword het vir gewigstoot. My pogings was onsuksesvol.

Hier teen gr. 6 kon ek darem dien as dirigent, alhoewel min ouers waardering gehad het vir ons Harry Potter-tema. Ek was vasbeslote om hiervoor te vergoed by die volgende atletiekbyeenkoms en ons was van kop tot tone in ons skooluniforms geklee. My ouer nefie se Top 20-kasset het ‘n baie gewilde liedjie gehad en ons sou op die maat hiervan op die rugbyveld verskyn. Ek het die kasset vir die skool se sekretaresse gegee en mooi verduidelik dat die liedjie, Mambo Italiano, op kant A van die kasset is.
Sy moes die kasset agterstevoor in die kassetspeler ingesit het, want ons pre-adolesente gesiggies is begroet met ‘n hormoonbelaaide Bloodhound-gang wat op die maat van donker klubmusiek sing: “You and me baby ain’t nothing but mammals, so let’s do it like they do on the Discovery channel.”

Ek was nie seker wat hulle bedoel nie, maar ek het so ‘n nare spesmaas gehad dat dit nie gepas is vir ‘n atletiekbyeenkoms nie en het vinniger gehardloop as wat enige 100-meteruitdun my nog ooit gesien beweeg het. “Tannie Susan, nee!” het ek geskreeu en onder haar tafel ingeduik om die kassetspeler dood te druk.

Die byeenkoms het verder sonder noemenswaardige voorval verloop totdat die o/13’s moes aantree vir die 1 500-meterwedloop. Ek, wat ‘n jaar ouer as almal was, kon ‘n rooi plakker dra en vanuit die staanspoor eerste kom in my eie afdeling. Ons het almal saam weggetrek en ek is reeds in die tweede ronde verbygesteek deur my maatjie wat besig was met haar derde een.

Ek het agteruitgedraf en vir haar gesing. Die skoolhoof het die megafoon nadergetrek om die ander atlete aan te spreek – hoe durf hulle vir my weghardloop? “Haai sies julle, moenie vir Helene wegdraf nie!”

Ek het gelag, ‘n wawiel gemaak en ‘n ysie gaan koop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button