Om grond te koop op jou 21ste verjaardag kry nuwe betekenis
Toe ek val, sloeg ek neer soos 'n os en my rooi rokkie is bo-oor my kop. 'n Blink vleeskleur Trim N lift het vir die gaste gekoekeloer.

Trim N Lift waarborg ‘n “elegante, slanke lyn”. Dit klink heel aanvaarbaar vir enige jong dame op die drempel van mondigwording. Dit is dan wanneer die horison geen einde ken nie en ‘n mens voel dat jy enigiets kan vermag. En wie wil nou nie sonder vetrolle wees wanneer die oorgang na volwassenheid voor 83 mense gevier word nie?
My 21ste verjaardagpartytjie is haarfyn beplan en my rooi rok het al ‘n dag voor die feesvieringe op ‘n hanger teen die kasdeur gewag. Die geheime wapen wat my uitrustig afgerond het, was ‘n vleeskleurige Trim N Lift.
Dis ‘n gebedsaak om in dié ding in te klim. ‘n Mens blaas al jou asem uit en hou dan heeltemal op asemhaal sodat jy nie per ongeluk weer inasem nie – selfs ‘n vierkante sentimeter suurstof maak die spanbroek kleiner. Dan trek jy die broekerigheid wyd oop en dwing jou bobene deur die pype. ‘n Ernstige bo-arm oefensessie volg wanneer elke beskikbare millimeter van die Trim N Lift se boonste gedeelte opgevul word. Op ‘n stadium gee ‘n volle broekgrootte met ‘n knal pad soos wat die broek bo-oor jou maag toeklap. Totdat jy hom chirurgies laat verwyder, lyk jy soos ‘n godin.
My hare is gekrul om by my slanke figuur te pas en daar is genoeg haarsproei oor my kop gespuit dat ek bedwelmd by my woonstel uit is.
Alhoewel ek net 40 mense na die partytjie met ‘n “You’re so wyn”-tema toe genooi het, het daar ‘n totaal van 83 gekom en gegaan deur die loop van die aand. Ek is tot vandag baie dankbaar dat almal hulle eie drank moes bring, anders het ek nou nog aan die rekening betaal.
Die Universiteit van Pretoria se LC de Villiers-sportgronde het ‘n pragtige dam waar ‘n mens lekker piekniek kan hou op die groen gras onder die wilgerbome. Dit het skemer geword en dit het donker geword terwyl een lamp ‘n lappie grond verlig.
Totaal begeesterd begin ek toe huppel om ‘n ou skoolvriendin te gaan groet. ‘n Dispuut is tussen my linker- en regtervoet verklaar en ek het ‘n stuk grond gekoop. Ek het nog nooit in my lewe so hard geval nie. Nadat ek gestruikel het, het my regterwang die grond getref. Die regterskouer, buuste, linkerheup en regterknie het een vir een die grond getref.
Ek het my oë oopgemaak en besef dat ek nog nie hemel toe is nie. Alles was donkerrooi en doodstil. Die een lamp op die terrein se lig het deur die donkerrooi lap geskyn en ek het besef dat my rok tydens die val bo-oor my kop geslinger is. Hipoteties gesproke sou dit beteken dat my gaste op daardie stadium besig was om vir my voete, bene en Trim N Lift-blinkboude te kyk.
My hipotese is deur ‘n lang stilte bevestig.
Die ou op wie ek smoorverlief was, het natuurlik ook die petalje aanskou. Dit kon dalk bygedra het daartoe dat ek die strafdop waarmee my vriendin my kom ophelp het, in een sluk opgeslurp het.
Was die ys toe vir jou gebréék! My 21ste was die eerste een in ons vriendegroep en almal stem saam dat geeneen ‘n meer gemoedelike fees kon oplewer nie.
My raad aan voornemende mondigworders is eenvoudig: dieet eerder.
