
Om ‘n hofverslaggewer te wees is ‘n ernstige saak. Alles gaan oor feite, name, datums en tye. ‘n Fout het verreikende implikasies en dit is vir my belangrik om aan die waarheid, die reg en die vereistes van my werk getrou te bly.
So nou en dan kan ek darem ook lekker lag. Die dinge wat mense kwytraak terwyl hulle so sit en wag vir die saak waarby hulle belang het om aan die beurt te kom, is skreeusnaaks.
Die banke in die hof is nie baie gemaklik nie. Dis soos kerkbanke van ouds wat van hout gemaak is. Die verskil is net dat ek nie daar vir ‘n bemoedigende boodskap is nie en ek kan nie elke nou en dan opstaan om bene te rek en te sing nie. Gepraat van kerk – ek het dit vreeslik geniet toe drie vermeende stropers verlede jaar vanuit die aanhoudingselle begin skreeu het. Hulle beweer dat hulle besig was om te bid toe hulle in die sel langs die hof gegil en rondgespring het, net voordat hulle tot 10 jaar tronkstraf gevonnis is. Een van die drie is ‘n pastoor.
Dit was ‘n vreemde verskynsel toe ‘n vrééslike gehuil onlangs uit die aanhoudingselle onder die hofgebou opgeklink het. Dit was net voor Kersfees en een van die gevangenes het só hartstogtelik geween dat ‘n mens hom tot in die distrikshof kon hoor. Die hofordonnans is af na die selle om hom te gaan stilmaak. Die ou het glo hoog en laag gesweer dat hy uit die sel gaan ontsnap. Hy het nooit so ver gekom nie en het na ‘n ruk maar sy mond gehou.
Maandae is dikwels vol verrassings omdat diegene wat oor die naweek gearresteer is, dan verskyn. Een van hierdie beskuldigdes het die ander dag agter my gesit en hy en sy medebeskuldigdes het oor ditjies en datjies gesels. ‘n Vraag het my aandag getrek: “Jis ou, het jy gehoor Stables maak toe?” “Ja, dis erg. Daar kom glo ‘n nuwe plek,” het die ander een geantwoord. Sy vriend het moedeloos sy kop geskud. “Nee ou, dit sal net nie dieselfde wees nie.”
Die uitdaging kom wanneer mense agterkom wie ek is. Soms is hulle heel tegemoetkomend en bereid om te vertel wat nou éíntlik gebeur het. Ander hardloop sodra hulle my sien. Die beurtkrag kom vir die laasgenoemde groep handig te pas omdat ek hulle nie in die donker kan sien nie. Hulle maak van die skielike donker gebruik om te laat spaander. Ek hardloop agterna en hardloop onvoorwaardelik in iemand vas wat belangrik is. Nadat ek geval het, staan ek weer op en hardloop verder. Sodra ek buite die hof kom, is die beskuldigde lankal reeds weg.
Party beskuldigdes laat my les opsê. Een het die ander dag sy eie selfoon uitgepluk en my begin afneem, terwyl ek foto’s van hom buite die hof geneem het. Ek is om die bos gelei deur ‘n ander beskuldigde se vriende wat glo buite die hof vir hom gewag het. Hulle was vreeslik gaaf en het buite die hof saam met my vir hom gewag. Dit was natuurlik alles een groot grap omdat die beskuldigde op daardie stadium reeds in die hofgebou was.
Daar was verlede jaar ‘n vrou in die beskuldigdebank wat van 08:30 totdat sy om 15:30 verskyn het, gehuil het. Haar snikke het meer en harder geword toe sy my sien en sy het elke nou en dan vir haar vriendin en medebeskuldigde gevra: “Is die joernalis nog hier?” Ek het dan maar geglimlag en gewaai.
