Kunstefeeste is nie politieke slagvelde
Ons (en al die ander feeste) werk al vir jare daaraan om vir ons eie kultuurgroep geleenthede te skep waar die Afrikaanse taal en kultuur uitgeleef kan word. Dis omtrent al wat ons oor het! Innibos was nog altyd goed genoeg - en vir baie jare sonder Steve. Maar noudat hy alles kom bederf het met ''Die Stem"-singery verlede jaar, is ons ewe skielik die vark in die verhaal?

Die enigste manier waarop politiek iets met Steve se weglating te doen het, is hy self. Ons het niks teen Steve as kunstenaar of mens nie, maar ons beleid is baie eenvoudig. Ons gaan nie toelaat dat enige kunstenaar ons verhoë misbruik om hul eie politieke beeld te bou nie. Moenie so naïef wees om te dink dat hy “Die Stem” gesing het bloot as ‘n mooi Afrikaanse volksliedjie nie!
Steve is ‘n opportunis wat elke moontlike geleentheid gebruik om sy eie beeld te bou deur op die regte emosies te speel. Ons het van hierdie jaar af ‘n klousule in ons kontrak waarin kunstenaars moet onderneem om geen Godslasterlike of polities-sensitiewe inhoud in hul optrede in te sluit nie.
Dit geld ook vir lirieke van liedjies, ensovoorts. Dit is ‘n gedragskode wat ons as billik en beskaafd beskou en Steve weier om hom daaraan te onderwerp. Hy het openlik gesê dat hy hom nie sal laat voorskryf wat hy van ‘n verhoog af gaan doen of sê nie. In die lig daarvan het ons besluit om hom nie te nooi nie. Dit is Steve wat daardeur homself uit Innibos weggelaat het.
Weet ook verseker dat Innibos nie ‘n “Afrikaner”-fees is nie maar ‘n Afrikaanse kunstefees vir alle Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners. Dit sluit alle rasse in en daar is ook selfs mense van ander taal- en kultuurgroepe wat die fees saam met ons geniet. Ons sal geen diskriminase hier duld nie.
Jy moet dus vir Steve blameer as jy nie meer fees toe kan kom nie. Drie vrae aan jou: Sou jou plaaslike skool vir Steve uitnooi om “Die Stem” by hulle saalbyeenkoms te kom sing? Nooit, want dit is nie die regte platform daarvoor nie! Dink jy dat jou kerk vir Steve sal uitnooi om “Die Stem” op ‘n Sondagoggend in die kerk te kom sing? Nooit nie, dis nie die regte platform daarvoor nie.
Dink jy dat die Suid-Afrikaanse Rugbyraad vir Steve sal uitnooi om “Die Stem” by ‘n toets te gaan sing? Nooit nie, want dit is nie die regte platform nie.
Waarom moet Steve toegelaat word om dit by ‘n kunstefees te doen wat uitsluitlik vir kulturele vermaak daargestel is. Ons gaan nooit toelaat dat politiekery weer op ons verhoë gebeur nie!
Dit is die enigste rede hoekom Steve nie by Innibos gaan optree nie – hy weier om by ons gedragskode in te val. Laat ek dit asseblief duidelik stel: ons het niks teen “Die Stem” as lied nie. Baie van ons het daarmee grootgeword en dit het vir ons almal ‘n diep gesetelde nostalgiese betekenis.
Dit is egter net so verkeerd om Dit op ‘n openbare verhoog te sing as om die ou landsvlag op die verhoog rond te swaai. Dit maak ‘n politieke “statement” en dit is onaanvaarbaar in die nuwe Suid-Afrika en daarom sal ons dit nie op ons verhoë toelaat nie. Dit is ‘n hartseer dag as mense toelaat dat een persoon hulle so kan breinspoel dat hulle wonderlike geleenthede soos kunstefeeste wil boikot.
Ons (en al die ander feeste) werk al vir jare daaraan om vir ons eie kultuurgroep geleenthede te skep waar die Afrikaanse taal en kultuur uitgeleef kan word. Dis omtrent al wat ons oor het! Innibos was nog altyd goed genoeg – en vir baie jare sonder Steve. Maar noudat hy alles kom bederf het met ”Die Stem”-singery verlede jaar, is ons ewe skielik die vark in die verhaal?
Steve kan dit nie verdra dat Innibos die ruggraat gehad het om hom nie uit te nooi nie – die fees wat in sy eie woorde die grootste Afrikaanse gehoor in die wêreld is. Omdat hy suur is daaroor en waarskynlik in sy ego gekrenk is, doen hy ‘n beroep op feesgangers om weg te bly van iets wat vir hulle belangrik geword het. Hoe kan enigiemand so verwaand wees!
As jy jouself groter begin ag as die saak wat jy dien, is jy op die verkeerde pad. Dit is hartseer dat Steve nie sy invloed eerder wil gebruik om versoening te bewerkstellig in hierdie land in plaas van om verdeeldheid tussen Afrikanse mense en ook ander kulture te saai nie.
Dit sal jammer wees om julle as feesgangers te verloor maar jy moet vir Steve daarvoor blameer en nie Innibos nie. As al die belangrike feeste in SA vir Steve weglaat, moet daar iets fout wees, nie waar nie? Dink jy dat verantwoordelike direksielede van feeste sommer so ‘n besluit ligtelik sal neem sonder dat daar baie goeie redes daarvoor is? Ek vra maar net!
