
Ek was twee keer in my lewe amper morsdood. Ek het byna verdrink toe ek 11 was en ek het byna uit ‘n vliegtuig uitgeval toe ek in gr. 11 was. Natuurlik oordryf ek.
Ons enkelkajuitbakkie is selde vir ‘n seevakansie gepak, maar wanneer ons hom gepak het, was hy só vol lekkernye dat daar nie regtig plek vir my en my boetie agter in was nie. Behalwe vir die waentjie wat saamgesleep is Mosambiek toe, is twee derdes van die voertuig se bak vol kos, tente en slaapsakke gestop voordat die twee kindertjies op ‘n sponsmatrassie ingeprop is. Daarna is die kappie se deur toegestoot.
“Is julle oraait daar binne?” vra my ma voor ons op Hoedspruit vertrek. Sy hoor ‘n gemompel. Die kinders lewe dus nog en die Eloffs vat die pad see toe. By Komatipoort stop ons om bene te rek, maar moet vinnig weer in die kappie inklouter omdat die plaaslike kinders by die grenspos ons lekkers vir hulself wil toe-eien. Ek was ‘n selfsugtige kind en was nie van plan om op daardie oomblik te begin deel nie. Ek het steeds nie daardie kopskuif gemaak nie.
Wanneer ‘n mens 16 uur later uiteindelik jou bestemming bereik, is jy maar lekker moeg en die feit dat die vakansiehuis se vensters gebreek is en dat die dak lek, val jou nie juis op nie. Jy dra maar die matrasse uit die stukkende voordeur uit en slaap op die stoep onder die sterre.
Die vakansie was nie luuks nie en toe my verjaardag op 17 Desember aanbreek, het ons koek geëet uit ‘n stoofpot voor ons vir die eerste keer sou gaan snorkel. My ma, my oom en ons drie niggies is met duikbrille, snorkels en paddavoete die wilde waters in. My tannie en jonger broer het op die strand gesit en wag.
Kort voor lank het die drie niggies en hul twee voogde só diep die see ingedobber, dat die stroom ons beetgekry het. Ons het besef dat daar nie veel hoop is nie en maar gewag vir iemand om ons te kom red. Wanneer ‘n mens in ag neem dat die Savora-strand nie ‘n lewensredder aan diens het nie, is dit verstaanbaar dat ek spontaan die Onse Vader begin neurie het. Ek het te veel water gesluk om die geloofsbelydenis ook te resiteer.
Die man wat ons gered het, het op die horison verskyn. My pa was geklee in sy snorkeluitrusting. Alhoewel dit normaalweg iets is om te sien, was dit op daardie dag régtig die kosbaarste ding wat ek nog ooit gesien het. Hy het die naaste niggie nadergesleep en haar op sy nek getel. Hulle het gewaai en gegil dat jy hulle tot wie weet waar kon hoor. Dis juis daarom vreemd dat niemand hulle gehoor het nie. Die feit dat daar so te sê niemand op die strand was nie, het waarskynlik iets daarmee te doen gehad.
My tannie het uiteindelik opgekyk, die vriendelike mense raakgesien, teruggewaai en verder gebaai in die son. Sy het opgemerk dat hulle nie ophou waai nie. So ‘n mate van vriendelikheid pas nie by ons nie en sy het besef dat haar mense gered moet word. Tannie Hessie het twee jetski’s opgemerk en die hele strand platgehardloop op soek na die eienaars. Toe ‘n jong man bevestig dat dit syne is, het sy dramaties gesmeek: “Gaan red my mense!”
Dit was toe so.
My lewe is vir die volgende ses jaar nie bedreig nie, totdat ek vir die eerste keer in ‘n vliegtuig beland het. Wanneer ‘n mens iets doen, kan jy dit netsowel behoorlik doen. Hong Kong was my bestemming. My vriendin Hannalie was op daardie stadium darem al Kaap toe met ‘n vliegtuig en het my herhaaldelik daarvan oortuig dat ek die vlug sal oorleef. “Hanna, ek sweer ek was nog nooit in my lewe so bang nie.”
Die vliegtuig het opgestyg en ek het gehiperventileer. My naels het in ou Hanna se bo-arm ingesteek, want ek het aan haar vasgeklou vir lewe en dood. Elke lugleegte het my laat dink dat ek na my dood toe val. Ek het onwillekeurig die Onse Vader begin neurie. Hierna het ek hom hardop begin sing en ek was so vrek bang ek gaan dood, dat ek die Nederlandse Geloofsbelydenis geresiteer het. Hierdie keer was daar geen keer aan my nie.
Die lugwaardin het my onderbreek met ‘n baie verwarrende vraag: “Hoender of bief?” “Groente asseblief,” het ek so ewe geantwoord. “Nee man, jy het net een van twee keuses. Jy kan kies tussen hoender en beesvleis,” verduidelik Hanna. “Wat van groente?” vra ek. “Jy kry dit in elk geval.” Hanna het haarself in die rede geval deur namens my te bestel en ‘n bord kos – met bief – het voor my beland. Ek het geëet, geslaap en lewendig in Hong Kong aangekom.
Ek is nog steeds met julle en weet nou dat ek darem al twee kleedrepetisies gehad het. As ek moet omtiep, kan ek dit darem met oorgawe doen. Ek weet hóé.
Lees meer blog-inskrywings hier:
Insetsel 12: Die mense in die hof…
