
Ek sing op troues.
Is dit ‘n advertensie? Nee. Dis ‘n bekentenis.
Ek erken dat ek al die elemente van die stereotipe wedding singer bevat en op meer as een geleentheid ten toon gestel het. En ek erken dat die tragiese bestaan van ‘n troutroebadoerdame ‘n klimaks bereik het toe ek met ‘n heldergeel T-hemp staan en arms swaai in die middel van die N1. Dit was ‘n solo-optrede.
Dit was 06:00 daardie dag toe die krag afgaan en ek het met my slaapklere aan in my kar geklim. “Marina, ek moet oor vyf uur by die onthaalsaal wees vir die klanktoets. Ek gaan by julle moet kom bad en aantrek, Nelspruit se krag is af,” het ek verduidelik terwyl ek Pretoria toe ry vir my vriendin se troue waar ek sou sing.
Die eerste ramp het my op Middelburg getref toe ‘n oorverdowende geluid van onder die kar af dreun. Nadere inspeksie het onthul dat die Toyota Conquest se buffer afgebreek het. Ek het sukkel-sukkel tot by die naaste vulstasie gery en die buffer daar met 13 cable ties van die grond af gelig. Die ding was skeef, maar hy was so half en half in die lug. Dit moes maar deug.
Ek het my klanktoerusting in Pretoria opgelaai toe ek oor my eie voete val en gesig eerste bo-op die elektriese klavier se sak te lande kom. My bril het nie die slag oorleef nie en ek moes dringend by die naaste oogkundige kontaklense koop. Hiervoor was ‘n noodoproep na my oogkundige toe nodig. Hy het ‘n voorskrif gefaks en ek en my oë is in die Conquest op die N1 haastig op pad troue toe. Ek het opgemerk dat my petrolliggie brand, maar geredeneer dat ek brandstof kan ingooi wanneer ek by die vulstasie verby ry.
Centurion het nadergekruip saam met die besef dat ek in die verkeerde rigting op pad is – ek moes van die klavierwinkel af regs gedraai het noorde toe en was nou sterk op pad Johannesburg toe. Ek het ‘n hoogs onwettige U-draai gemaak en die klankman histeries gebel: “Lieg vir die bruid, asseblief. Ek is laat en in die middel van die N1. Speel maar vir tyd of iets. Ek kom.”
My voet het die petrolpedaal diep ingetrap en Conquest het laat spaander totdat hy skielik met drie slukke tot stilstand gekom het in die middel van die N1. My brandstof was klaar.
Gautengers het op my afgepyl en getoet en gevloek en middelvingers laat reën asof ek baie mooi daarvoor gevra het. Ek klim toe maar uit my motorkar en trek die geelste hemp aan wat ek het. Die heldergeel hemp kom uit my gym-versameling en daar staan in groot swart letters “advantage” op die voorkant geskryf. Juffrou Advantage staan toe agter die kar en waai en skreeu dat die mense tog net uit die pad uit moet kom en ophou in vingertaal vloek.
Dit het niemand gekeer nie.
My boetie was my enigste hoop – ek het sy nommer ingetik en die groen knoppie gedruk.
You have less than three rand. Please recharge before attempting any further calls.
Toe hoor ek dit: die klank van sirenes. Die N1 padbystand-span het my kom red. Daar was verkeersmanne, ‘n ambulans en baie oranje kegels. Hulle het my kar van die pad af gesleep en die vloekende verkeer weer laat vloei. ‘n Tweeliter bottel vol brandstof het my tot by die naaste vulstasie gehelp en ek is daarvandaan na die troue toe.
Die bruid en bruidegom het hulle liedjie gekry en ons het lekker troue gehou.
Dit was die einde van my loopbaan as troutroebadoerdame.
Ek sing nie meer op troues nie.
Lees vorige blog-inskrywings hier:
- ‘n Week by my wyse ouma
- Die mense in die hof…
- Almal moet doodgan, ek het solank die kuns vervolmaak
- Insetsels 1-11
