Ek wens ek het ‘n draagbare muur gehad wat ek kon uitruk wanneer ek my voormalige minnaars raakloop. Die muur sal my en die hele spul uit mekaar se gesigsveld hou. Daar is ‘n hele dosyn van hierdie gevalle soldate wat klaarblyklik nooit weer dieselfde sal wees nie.
Dit het ek besef toe ek een van hulle die ander dag weer in Limpopo raakloop. Hy’t soos ‘n kranksinnige met bomskok rondgedans en besef dat daar nie uitkomkans is nie. Ons sou een of ander tyd bymekaar verby moet beweeg. Knapie besluit toe maar om teen die muur te staan en hom te kamoefleer. Of dit sy bedoeling was weet ek nie, hy was so bleek dat die redelike persoon hom vir wit verf sou aansien.
“Moenie bang wees nie, Knaap,” het ek gedink. “Ek sal jou nie insluk nie.” Nee. Wanneer ek met jou klaar is, sal daar wel ‘n weergawe van jou oor wees wat julle iewers by die huis kan uitstal. Ek is seker dit sal tussen jou ma se porseleinpopversameling en jou pa se gestopte diere inpas. Of dalk naby die skulpies en gedroogde seesterre. Of die goed op die kaggel.
Die stomme goed het dalk rede om vir my bang te wees.
Daar was ou Hansie in standerd ses. Hy wou glo Valentynsbal toe gaan en die boodskap het by my uitgekom. “Weet jy wie’s Hansie?” het ek vir ‘n blonde outjie gevra. Die het laat spaander en dit het uitgekom dat ek vir die einste Hansie gevra het wie Hansie is.
Piet was my kêrel in die hoërskool, maar die verhouding het skipbreuk gely toe hy verkies om my beste vriendin na die matriekafskeid toe te neem. Ek moet wel uitwys dat hy haar kêrel was voordat hy myne was. Piet is deur Jan opgevolg wat in ‘n nekstut was en dus nie kon wegkom wanneer ek hom wou soen nie. Sy opvolger, Koos van Pretoria Oos, het langer gehou.
Toe beland ek in die Moot. Dié minnaar sing vandag nog en het glo ‘n verhoognaam – Chevron. Hy het graag saam met my gesing. ‘n Restaurant is bespreek en gaste is genooi sodat ek en Chevron saam kon sing. Dit was tydens hierdie vertoning wat sy meisie aan my voorgestel is.
Ek het mooi vir hom verduidelik hoe die lewe werk: “Daar is ‘n rede vir die twee kante aan elke treinspoor en jy verpersoonlik die motivering agter daardie universele reël.”
Ek het na my kant van die treinspoor terugbeweeg en nooit weer teruggekyk nie.
Die gevalle soldate se ma’s was almal vreeslik lief vir my en kontak my nog gereeld. Kom ons jok nou nie vir mekaar nie – ek ís die ideale skoondogter. Maar die gevalle soldate wat Chevron opgevolg het en laat spaander het of ek weggejaag het, vermy my soos die runderpes. “Sy’s mal, ek sweer” sê die een kamp.
Die ander beweer ek het nie ‘n hart nie, omdat ek daarin glo dat ‘n mens duidelik en ondubbelsinnig aandui wanneer jy nie in iemand belangstel nie en vermoed dat hulle dalk so ‘n klein bietjie verlief mag wees op jou. “Fanus, ek hou nie só van jou nie. Jy’s gaaf, maar jy’s nie my tipe nie.” Een-twee-drie en enige onsekerheid is by die deur uit. Sommige dink ek is taktloos, ander dink ek speel hard to get. In laasgenoemde se geval gaan staan ek direk voor die soldaat en kyk hom vierkantig in die oë. “Jy’s nie my tipe nie. Dié storie gaan nie werk nie. Nuh-uh.”
Goed dan. As jy nie verstaan nie, los my uit.
Wanneer ek aan die ontvangkant van hierdie boodskap is, ontvang ek dit nie graag met grasie nie. Daarvandaan die bewerings dat ek non compos mentis is. As jy ooit aan hierdie kant van my menswees beland, moenie vrees nie, ek sal toesien dat jou ma die stukkies wat van jou oorbly op ‘n gepaste plek uitstal.
Tot volgende keer…
Lees ook:
En kyk na:
- ‘n Week by my wyse ouma
- Die mense in die hof…
- Almal moet doodgan, ek het solank die kuns vervolmaak
- Insetsels 1-11
