
“Nelspruit is ‘n kliekerige plek. Sterkte met die vriende ding.”
Hierdie is ‘n algemene waarskuwing wat soms na niksvermoedende nuwe intrekkers se kant toe geslinger word. Verbeel jou. Jy trek met jou geliefde, jou kind, jou hond en jou budgie Laeveld toe. Jy het nog nie eers die treklorrie se inhoud bestudeer om te kyk wat beskadig is nie, voordat jy aangesê word om eerder ‘n u-draai te maak.
Nee wat.
Ek is nou net meer as twee jaar ‘n Nelspruiter en het op 24 hierheen getrek. Ek moet maar hier aftree ook. Om te trek is heeltemal te uitputtend.
Dis met dié besluit ingedagte dat ek almal se waarskuwings geïgnoreer en begin vriende maak het. Of die voornemende vriende lus was om ‘n vriendskap te sluit, weet ek nie.
Hiermee die nuutkommer se gids tot die sluit van vriendskappe in die Laeveld.
1. Word hier gebore.
Hierdie wenk gee ‘n voornemende vriendemaker ‘n ongeëwenaarde voorsprong. Ek is in Vryheid gebore en moes my agterstand inhaal, maar ek het waargeneem dat mense wat hier gebore is, lewenslank vriende bly met die baba wat langs jou in Rob Ferreira se kraamsaal gele en blêr het.
2. Kry ‘n klub van een of ander aard.
Die Laeveld het ‘n lawwe hoeveeldheid klubs. Word deel van ‘n klub.
3. Wees die houer van ‘n mediese kwalifikasie.
Hierdie mense het vriende en migreer in groepe. Die migrasie is nie seisoenaal van aard nie. Min buitestaanders word toegelaat. As jy nie die kwalifikasie het nie, sit sewe jaar opsy en kry hom.
4. Wees vriendelik.
Niemand hou van onvriendelike mense nie.
5. Wees oorvriendelik.
Dit spreek vanself. Soms werk dit ook nie.
6. Moenie opgee nie.
Soms moet jy jouself nooi.
7. Koop hulle om.
8. As mense jou nie nooi nie, nooi hulle.
9. Ek sou hier voorstel dat jy Stables besoek. Daar is almal vriende. Ek het egter verneem dat die plek gaan toemaak.
10. Vermy ‘n kriminele rekord. ‘n Gebotsery met die reg is ‘n slordigheid en eerste indrukke tel.
Hierbenewens het ek geen raad nie. Ek kan wel daarvan getuig dat die liewe lawwe Laeveld jou met oop arms verwelkom as jy die plek met ‘n mooi gesindheid benader.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
