Skoenmaker, hou jou by jou lees
As jy dink vasdans is vir almal, dink weer.

Die meisieskool-seunskool-debat kom al jare. Party meen dat kinders in enkelgeslagskole makliker konsentreer. “Dit maak van jou ‘n dame,” sê sommige stywelip-tannies. “Dit maak jou selfstandig!” sê ander. Daar is dié vir wie seuns en dogters in dieselfde klas ‘n móét is. “Hoe anders gaan jy leer kommunikeer?”
Ek is baie dankbaar dat ek in ‘n meisieskool was om die eenvoudige rede dat ek nie kan vasdans nie. Daar het jy dit.
Hallo. My naam is Helene en ek kan nie vasdans nie.
“Dit gaan oor die ou – hy moet kan vasdans. Dis nie jou skuld nie,” het die een na die ander vriend my al probeer paai. Die stomme man word dan ‘n slagoffer van sy eie liefdadigheidsgebaar wanneer hy my vir ‘n spin vat en onder my spykerhakskoen beland.
Omdat ek my naaste se veiligheid baie hoog ag, weier ek om te vasdans. Wanneer iemand my vra, hou ek voet by stuk. “Nee.” As die man dink ek is nors, is dit nou maar so. ‘n Mens weet mos nou wat jy kan doen en wat jy nie kan doen nie.
My pa sien dit so: “Voordat ek iets doen, dink ek altyd eers aan die mensdom en of hulle dit gaan wil meemaak.” Dis met hierdie rasionaal ingedagte dat hy nie sonder ‘n duikpak op die strand verskyn nie. “Dit sal sosiaal onsensitief wees vir my om in ‘n skamele baaipak rond te plas,” meen hy. (Hy is darem tans op ‘n vissop-dieet.)
Ek neem die mensdom tot so ‘n mate in ag dat ek slegs met ‘n outomatiese lisensie rondry, omdat ek weet dat my hand-oog-koördinasie nie iets is om oor huis toe te skryf nie, maar steeds gaan speel ek nie Sondae gholf nie.
Hierdie duimreël kan nie genoeg beklemtoon word nie en kan veral by open mic-aande beklemtoon word.
Open mic-aande herinner my altyd aan ‘n groot jammerte. Dis so jammer dat ouers te sleg voel om die waarheid te praat. “Ag toemaar, Pietie. Nie almal kan hardloop nie, maar ek is seker jy kan mooi sing.” Niemand dink aan die arme beoordelaar wat na 100 Pieties moet luister by die jaarlikse bosveld-talentkompetisie nie. Dit laat my dink aan die generiese sertifikate wat ons almal by die sangklas ontvang het aan die einde van die jaar.
“Aan: ____________
Baie geluk met jou mooi gesindheid en jou pragtige stem.”
Daar was 24 van ons met ‘n mooi gesindheid en ‘n pragtige stem. En die arme klankman moes die begeleiding al hoe harder stel en die mikrofoon al hoe sagter. Mense sal énigiets doen, solank hulle net nie vir ‘n kind hoef te vertel dat hy of sy nie vir ‘n sekere aktiwiteit in die wieg gelê is nie.
Maak nou maar vrede daarmee dat geen mens alles kan baasraak nie. Daar móét van ons soort ook wees.
Werk nou maar aan die mooi gesindheid, jong.
Lees hierdie:
