Die ridder het uitgesterf. Hy kan geklassifiseer word saam met die dodo, die mammoet en ou dinosourus.
Chivalry is dead is ‘n geykte uitdrukking vir ‘n rede – dis die waarheid.
Ek was elf jaar oud toe die laaste ridder sy hart vir ‘n ander vrou gegee het. Fiona het met Shrek se hart weggeloop. Drie opvolgflieks het sout in my wonde gevryf. ‘n Graad elf seun op ‘n scooter het maar gekwalifiseer as ‘n ridder op ‘n wit perd vir die sewentienjarige meisie wat gewag het op haar eerste kêrel.
Die kêrel het my op Mxit gekontak.
“Hey. Wat maak jy?”- boodskappe het die moderne hofmaaktegniek geword.
Ek het kort voor lank besef dat die moeite wat ons pa’s gedoen het om ons ma’s se harte te wen iets van die verlede is. ‘n Oom het my eenmaal vertel van die betowering wat sy vrou in hul jong dae vir hom ingehou het: “Sy was vir my só mooi dat ek op my fiets sou klim en die sewe kilometer tot by die promenade teen ‘n stinkspoed getrap het, net sodat ek haar dálk kon raakloop!”
Vandag is dit makliker. Te maklik. Hulle hoef net Facebook te besoek om vir jou te koekeloer. “Daar’s so baie meisies wat beskikbaar is, as die een nie belangstel nie, gaan ek net vir ‘n ander een,” kondig ‘n vriend onlangs selfvoldaan aan. Die ridder se doodkis het nie nog ‘n spyker nodig gehad nie, maar hierdie opmerking het sy dood bevestig.
Vroue kla gereeld oor mans sy skynbare gebrek aan belangstelling om ‘n goeie indruk te probeer maak. Outydse hofmakery is iets van die verlede en as die vrou nie gou genoeg ingee nie, wil hy ook nie verder sukkel nie.
Ek is self nie een vir sukkel nie. Dis nou maar so en klaar. Ons vroue moet op ons eie klaarkom, want mans is nie lus om moeite te doen nie. “Ek’s oorit.”
My siening is vanoggend verander.
‘n Ingenieur van die Weskaap het besluit om iets buitengewoons in die openbaar te doen. Pieter van der Merwe het vir Jozanne Maritz, ‘n vrou wat sy oog gevang het, ‘n brief op Facebook geskryf met ‘n skets daarby wat hy self geteken het. Die boodskap het haar bereik en beide het aangedui dat dit ‘n moontlikheid is dat hulle in die toekoms kontak mag hê.
Sy boodskap lyk so:
“So…There is a girl… somewhere in Stellenbosch
I have a suspicion that this girl has a great passion for the arts…
Now… I like this girl. A lot.
But she doesn’t know that I do… In fact, she doesn’t even really know who I am yet.
So… I drew this pencil sketch for her. It is a portrait of the absolutely stunning girl which I am referring to.
The reason I made the sketch was in the hope that I will have the opportunity to give it to her as a gift and maybe, just maybe, get the opportunity to take this beautiful girl on a date where, of course, I can personally tell her that she is the most beautiful person I had ever have the honour to lay my eyes upon.
Unfortunately, I cannot contact this girl directly at the moment, so I’m making use of the powerful social network environment to try and let this beautiful girl know that there is a guy out there that thinks the world of her and he wants to give you something…
So here goes, my hope is that it reaches her…and that she likes my drawing :)”

Toe ek die boodskap lees, kon ek my oë nie glo nie. Skeer hy die gek met haar? Drink hy en sy pelle ‘n bier en daag mekaar uit? Het hy daardie prentjie op Google gekry?
Nee – dit was sowaar ‘n opregte boodskap.
Pieter se boodskap het Suid-Afrika aan die gons en ek heroorweeg my siening. Hy’s ‘n gewone ou wat nie bang was om iets buitengewoons te doen om die aandag te trek van die vrou wat hom betower nie. As hy dit kon doen, kan anders mans mos ook.
Dis hoe dit hoort!
Pieter se gebaar het my laat besef dat daar nog mans is wat moeite sal doen. Ons kyk hulle net mis. Die feit dat die boodskap en meegaande skets al meer as 1000 op Facebook gebruikers se profiele gedeel is, getuig van die effek wat dit op mense gehad het. Dit was hoogtyd dat iemand die spykers uit die ridder se doodskis haal.
Die ridder is nie dood nie.
Hou Nelspruit Post dop vir ‘n aanlyn-onderhoud met Pieter.
KEN JY DONDERDAG?
- Skoenmaker, hou jou by jou lees
- Dink jy jy’s belangrik?
- Ferreirastraat
- DONDERDAG – DIE BLOG INSETSELS 1 – 11
Hier steek ons draak met dokters.
