BlogsOpinionVryerige Vrydae

Liefde wen… of nie?

Die Beatles was seker weer gerook toe hulle All you need is love geskryf het. Pfft! As dit maar so maklik was

‘n Masogis is iemand wat van pyn hou. Hy/sy put (seksuele) genot uit fisiese of emosionele mishandeling. Na my mening is almal wat liefhet dus masogiste. Suckers for punishment. Want liefde is pyn. Lyding. Maklik is dit gewis nie.

Ek sien hoe mense om my, mense ná aan my, se breek. Ek sien hoe hulle seergemaak word deur diegene wat hulle liefhet en hoe hulle dié wie húlle liefhet, seermaak. Ek sien hoe mense hul eie identiteit prysgee om hul wederhelftes tevrede te stel. Ek sien hoe beide mans en vroue fisieke en verbale mishandeling verduur, alles kwansuis in die naam van liefde.

Ek was al op verskeie terreine van my lewe suksesvol, maar die liefde is nie een van hulle nie. Ek is 30 en het vyf mislukte verhoudings agter my naam. Die rede hoekom elkeen van my liefdesbootjies op die rotse geloop het, is eenvoudig: liefde is nie (altyd) genoeg nie. Die Beatles was seker weer gerook toe hulle All you need is love geskryf het. Pfft! As dit maar so maklik was.

Dalk is ek bloot selfsugtig. Ek verstaan die konsep van toegewing. Die Ingelsman het ‘n mooi woord daarvoor: compromise. Ek kan net nie insien hoekom jy jouself moet verloor of prysgee om ‘n verhouding te laat werk nie.

Ek het op 22 ‘n huweliksaanbod gehad, maar dié kandidaat was té voorskriftelik oor my kleredrag, hoeveel ek moes weeg en my pligte as vrou. Die besluit was maklik. Hou links, gaan regs verby.

Die volgende verhouding het skipbreuk gely omdat ek nie sak en pak agter hom wou aantrek sodat hy sy drome om ‘n suksesvolle loopbaan te hê, kon verwesenlik nie. My loopbaan en toekoms was op daardie stadium hiér. Lief vir hom was ek wel, maar die prys wat ek moes betaal, was op daardie tydstip net te hoog.

My volgende verhouding het weer eens bewys dat liefde nie genoeg is nie. Ek het na vier jaar genoeg gehad en tou opgegooi. Ons bootjie het net te lank op dieselfde liefdeswaters gedobber sonder om enige koers in te slaan. Toe was dit hy wat nie sy vlerke wou sprei en saamvlieg na hoër hoogtes nie.

Hierna het ek my in ‘n verhouding bevind waarvoor ek bereid was om álles te gee. Met alles bedoel ek die nodige tyd en toewyding om saam as mense te groei, sonder om (te veel) van jouself hoef in te boet. Die tyd was reg. Ek was reg. Hy was nie en het my die trekpas gegee. Connor Mead, vertolk deur Michael Douglas in Ghosts of girlfriends’ past, sê op ‘n kol: “the power of a relationship lies with whoever cares less“. Dit som basies hierdie verhouding van my op. Eintlik enige verhouding, as jy mooi daaraan dink.

Ten spyte van al die seerkry en mislukkings, hunker ek met my hele wese na ‘n man wat my onvoorwaardelik liefhet en ek hóm. Iemand met wie ek die res van my lewe wil en kan spandeer.

‘n Hele boek in die Bybel word aan die liefde gewy – Hoogliedere. Ontelbare gedigte, liedjies en rolprente hieroor het al die lig gesien. Tog dink ek nie iemand is enigsens nader daaraan om hierdie emosie, verskynsel of wat jy dit ook al wil noem, ten volle te begryp nie.

Ek is gretig om te leer, te verstaan, te ervaar. Liefde kom min genoeg oor ons pad. Intussen probeer ek dit daagliks toepas in my handeling met my gesin, my kollegas, vriende, enigiemand wat my pad kruis. Ek slaag nie altyd nie, maar ek probeer. Liefde. Al ervaar jy dit nie, lééf dit!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button