Goeiedag Niekie
Dis Marie hier van Vanderbijlpark. Jong Niekie, ek wil asseblief anoniem bly, hoor.
Ai, Marie.
Niekie van den Bergh se Sê Wie het my geleer van anoniem wees. Mense hou vreeslik baie daarvan om land en sand te gesels. En het hulle vir jou gesels! Ou Niekie en Anoniem moet teen hierdie tyd beste vriende wees – hoe dan nou anders? Anoniem het vir Niekie alles vertel – van die kind wat nie wil luister nie tot die oupa wat doof geword het. Niekie sou nooit sonder luisteraars of inbellers wees nie, want mense wou graag gehoor word.
As mense maar net kon weet wanneer hulle stilswye tot ons almal se voordeel sal strek…
Langenhoven het hieroor geskryf in sy spreuke:
“Hou jou glimlag vir jou vyand,
jou trane vir jou vriend,
jou hart vir jou ewemens,
jou oordeel vir jouself,
en jou gewete vir jou God.
Hou jou vermoë,
hou jou geloof,
hou jou naam,
hou jou skoon,
en hou jou bek.”
Ek slaag nie gereeld in laasgenoemde nie. Die wag voor my mond is met my eerste woorde in die pad gesteek en ek is sedertdien gereeld in die sop oor die dinge wat ek sê. Hoogtepunte sluit die keer in toe ek vir my Sondagskooljuffrou verduidelik het waarom ek gou ingeglip het vir sondagskool.
“Ag tannie René, my pa en ma het ons maar gou kom aflaai want ons kon nie kerk toe gaan nie.”
“Hoekom nie?”
“My pa het vet geword. Sy kerkbroek pas nie meer nie.”
Om uit die huis uit te praat was ‘n kuns wat ek vroeg al vervolmaak het – ek het nie verstaan van stilbly nie.
Lees ook:
Vandag het ek meer beheer oor die situasie. Ek het geleer dat ‘n toe bek soms ‘n heel bek is.
Daarom het ek Wikipedia geraadpleeg oor hoe om ‘n stiller mens te wees. Wikipedia beveel aan dat ek oor die algemeen versigtiger moet optree.
“Stil mense is geneig om aan die buitekant van ‘n groep mense te beweeg. Hulle handhaaf oor die algemeen ‘n neutrale liggaamshouding en hul gesigsuitdrukkings is meestal neutraal.” Ek moet glo my kop regop hou en rond kyk terwyl ek my omgewing inneem. “Hou ‘n gemaklike afstand van mense af – soos wat jy sou maak in ‘n wagkamer.”
Terwyl ek nou so aan die buitekant van ‘n groep in ‘n fiktiewe wagkamer sit, moet ek kalm en rustig bly. “Wanneer jy wel praat, moet dit so ‘n rare verskynsel wees dat mense onmiddelik daarvan kennis neem.
My eie gedrag moet die begin wees van my transformasie. Wikipedia beveel aan dat ek my gewone optrede deurgaans voorspel en dan die teenoorgestelde doen. “Natuurlik kan jy hierdie proses stadig aanpak,” is hulle raad. “Kies ‘n paar oomblikke per dag waarop jy meer na binne kyk en tree meer gereserveerd op. Dit sal met tyd vir jou makliker word.”
Ek twyfel of stiller mense sal saamstem met hierdie veralgemenings.
As jy my soek, ek’s die een aan die buitekant van die sirkel in ‘n wagkamer wat net ek kan sien. Ek staan ver van jou af en bly stil wanneer ek lus is om te praat.
