As jy dink dat dit effens vreemd was om Stables helder oordag te besoek, dink jy reg.
As jy dink dat dit veral vreemd was om Stables helder oordag te besoek nadat die plek toegemaak het, is jy veral reg.
As jy dink dat die hartseer siel wat dit gedoen het nie heeltemal geestesgesond is nie, is jy miskien reg.
As jy dink dat jy cooler is as die hartseer siel wat Stables ‘n laaste keer helder oordag gaan besoek het om koebaai te sê, is jy tien teen een reg.
…
As jy nog steeds lees, is jy net so nuuskierig soos ek was.
Ek het van Stables gehoor voordat ek nog geweet het dat ek eendag in Mbombela, sou kom woon. “Jy móét die plek net beleef,” het almal altyd kort na Innibos vertel wanneer hulle hul Stables-stories met groot oë gedeel het.
Toe ek in 2013 hierheen trek, het ek ‘n paar mense gevra om my na die bekende plek toe te vergesel. Ek het gou agtergekom dat my beste vriendin haarself daar verban het. “Ek was twee jaar laas daar,” het sy altyd trots aangekondig. Dit het natuurlik nie lank gehou nie – sy het wel weer ‘n paar draaie daar gaan maak.
Dit het vier maande geneem totdat my beste vriend Christiaan my saamgepiekel het. Ek het so ewe my Pretoria-pakkie aangehad vir die uitstappie – dit was net mini, sykouse, serpie en oorbelle waar jy kyk. Ek het myself die volgende oggend gediagnoseer met voggies-onverdraagsaamheid.
Dit was maande voordat ek teruggekeer het. Sien, die plek was so half verslawend. Daar was ‘n hele paar beskuldigdes wat met my saamgestem het. Wanneer ek hofverslaggewing gedoen het, sou die beskuldigdes soms in die banke van die hof sit en gesels oor wat die naweek in Stables gebeur het. “Jis ou, ek kan nie glo die plek gaan toemaak nie…” was onlangs die trant van baie gesprekke tussen beskuldigdes. Ek het dan ook maar grond toe gekyk, my tong geklap en my kop geskud. Hartseer sake.
Hierdie nuusbrokkie het dit vinniger tot in Gauteng gemaak as wat ek besef het. Toe ek ‘n paar weke terug in die moot se Sinkhuisie sit en koffie drink, vertel ek vir ‘n ou vriendin dat die plek gaan toemaak. Twee mans het van die tafel agter ons af opgestaan en hulleself kom voorstel. “Toe ons hoor jy praat van Stables, het ons besef jy’s van Nelspruit af. Ons moes net kom groet.” Die vier van ons het toe sommer nog koffie en ontbyt bestel.
Ek het onlangs weer opgemerk dat mense op Facebook kla oor beweerde onvriendelikheid in ons stad. Nonsens man – in Stables was almal vriendelik. Soms tot so ‘n mate dat ‘n mens moes om verskoning vra. “Jammer man, ek’t nie besef sy is saam met jou hier nie,” het ek ‘n arme ou al ‘n paar keer hoor wal gooi.
Vir die wat nog nooit oorsee was nie, het Stables ‘n kits-Vegas gebied. “Dis jou bachelorettes, Maggie! What happens in Stables, stays in Stables!” Ek het dit al gehoor, voordat ek 13 ander weergawes van die aand se gebeure by ander Nelspruiters deur die komende week gehoor het.
Almal weet teen hierdie tyd dat ek nog altyd gesukkel het met die vasdansery. Dis nou een ding wat Stables my nie kon leer nie. Ek het wel geleer om altyd my plakkies te blameer. “Jammer man – dis my skoene. Die goed bly afval so ek moet dit met my tone vasklou.” Die verskoning het nooit lank gehou nie. As ek maar weer gesien het, was my voete vol stof.
Ek besluit toe verlede Donderdag om te gaan kyk hoe die plek in die dag lyk. Jy kan nie stry nie – jy het al hoeveel keer amper gaan kyk!
Dit was so vreemd om in die daglig daar in te ry. Dit was tjoepstil en ek sing toe maar vir myself. Op die maat van my eie “wys my jou naweeklyfie” het ek lekker vir my eie eskapades gegiggel. Wat laat die video jou onthou?
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!