BlogsOpinionWoes

Braai soos Butch Cassidy en Sundance Kid

Dis maar goed ek het een van daardie kopliggies want deesdae braai ek met die braaitang in die een hand en die rollie in die ander. En as ek n slukkie dop wil vat sit ek eerder die tang neer.

Kyk dis nie meer maanskyn en rose op die plaas nie. Of jy nou koerant lees of geselsies aanknoop by Builders Warehouse (want daar is nie meer n kooperasie nie), plaasaanvalle is op almal se lippe.

Toe ek jare gelede uit Pretoria weg is na groener weivelde was die Laeveld bo aan my lysie. Hier aangekom was ek heel tevrede met my besluit. Die weer is lekker vir braai. Selfs in die winter kan jy lag-lag met n vuurtjie regkom as jy net klaar kry voor die son sak, of genoeg hout het teen die koue. Ons het elke naweek gebraai en tot laat, en soms tot vroeg, sorgloos om die vlamme gesit. Maar deesdae lyk die braai baie meer soos n spesmag operasie, en baie van die lekker is daarmee heen.

So staan ek nou die dag op die stoep, n berekende drie meter van die deur af, voor die gasbraai. Dit is al effens donker so ek waag nie om vuur te maak daar ver in die boma nie. Ek het selfs al my twee pitbull-honde geleer dat een voor my uit loop en die ander een op my hakke bly. Mens kan nooit te versigtig wees nie.

As ek my kop by die deur uitsteek is ek oorgehaal soos ‘n cowboy. Maak eers seker the coast is clear. Sluit die deur agter my toe dat Plopsie en kleinboet veilig is binne. Dan met Tyson-brak vooruit steek ek my kop so half om die hoek van die huis. Ozzy-brak trap op my haak as ek stop. Die sensor lig gewaar my . Arc eyes! Met die ligte aan lyk my erf soos Ellispark en al wat ‘n voël is vat pad uit die bome. Nou loer ek gou om te sien of die elektriese heining aan is. As als reg lyk start ek die braai en maak daai gas kraantjies sommer wyd oop dat die rooster vining skoonbrand. Ek sit nie soos n eend rond en wag nie maar bevind myself binne waar ek solank als regkry. Deur gesluit.

Deur die venster lyk die braaier reg so met n skinkbord in die een hand, en die ander reg vir aksie, betree ek weer die stoep. En sluit die deur. Dit sou help as my oë onafhanlik kon werk soos n verkleurmannetjie. Dan kon die een die vleis dophou en die ander een die tuinhekkie.

Terwyl ek so staan en braai, en kyk, en luister, hoor ek êrens in die vertes die roep van n naguiltjie. Dis ‘n geluid wat my nog altyd na aan die hart lê. Hulle sê hy roep sy maat jaar na jaar aanhoudend tot hul mekaar weer in paartyd ontmoet. Maar die romanse het selfs nou die naguil verlaat as ek myself vang waar ek wonder: skree hy nou om sy maat te roep, of het n boef hom dalk amper raakgetrap? Vleis af, gas toe, deur gesluit, sit en kou ons in ons koutjie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button