BlogsOpinion

Matriekafskeid – allesbehalwe ‘n sprokie

Wanneer het ek vir die eerste keer besef dat my matriekafskeid op ‘n ramp sou afstuur?

Dit was gedurende my matriekjaar in April. Ek het matriekafskeidrok nommer een aangehad en in die spieël gekyk. ‘n Toiletrolbarbiepop in turkoois, swart en silwer het vir my teruggestaar. Maar die rok het in my voorgenome prysklas geval en sou moes deug.

Ek het dit twee weke later gaan teruggee en besluit dat ek nie lus was vir die matriekafskeid-storie nie. Dit was Augustus toe ek besluit het dat ek wel my eie matriekafskeid sou bywoon. Dit het mooipraat gekos en my pa het uiteindelik toegestem tot ‘n rok in ‘n hoër prysklas.

Nou moes ek ‘n metgesel iewers uitkrap. Die taak het soos ‘n berg voor my gelê. Dis eenvoudig aaklig om ‘n man trompop te loop en hom vir ‘n aand uit te vra. Maar nou ja, as leerling van ‘n enkelgeslagskool dra jy hierdie kruis. Metgesel is geïdentifiseer en ons het ooreengekom dat hy saam met my matriekafskeid toe sou gaan. Sy vlak van entoesiasme kon met ‘n sagte poep in ‘n warrelwind vergelyk word.

Metgesel, ‘n leerling by die seunskool, het my vriendin kort daarna na sy matriekafskeid toe gevra. Ek het nie mooi verstaan hoe dinge tussen seuns en meisies veronderstel was om te werk nie en het dit maar so aanvaar.

Ek het op die dag van die geleentheid besef dat ek nie vervoer na die storie toe gereël het nie. Metgesel het ‘n wit Corsa Sport besit. Ons het die kar dóér ver van die Voortrekkermonument, waar ons matriekafskeid sou hou, parkeer. “Metgesel, as iemand vra het ons hiernatoe geloop. Dit klink baie alternatief,” het ek beveel. Ek en hy het daar ingestap asof ons dit al lankal so beplan het.

Die saal was pragtig versier. Ons tafel se versierings het ongeveer ‘n halfuur gehou voordat ek per ongeluk in die tafel vasgeloop het. Soveel so dat die hele tafelblad na die ander kant toe gekantel het. Dit het alles stadig voor my afgespeel: Die meisie wat oorkant my gesit het se oë het so groot soos pierings gerek. Sy en haar metgesel het opgespring. Die tafelblad het omgeval en die versierings, glase en liters vol sap het die grond dawerend getref.

Daar het ‘n stilte gevolg waarin ‘n mens ‘n haarknippie kon hoor val.

Toe sien ek dit: Godzilla. Godzilla is die ding waarin ‘n meisie verander as daar sap op haar matriekafskeidrok beland.

“Dit was hy!” het ek geskreeu en arme Francois beskuldig.

Ek het intussen in ‘n glasstuk getrap (ja, ek het my hakskoene skelm onder die tafel uitgeskop) en my voet het die wêreld vol gebloei. Almal se simpatie het swaarder geweeg as hul woede en ek is na die badkamer toe vergesel, waar ons ‘n pleister op die snywond geplak het.

Ek het hinkepink vir Metgesel geloop en soek totdat ek hom in die hande gekry het – vasgevang in ‘n ander vriendin se verruklike oë.

“Luister boetie, ons moet die fotoding agter die rug kry,” het ek geskel en hom na die fotograaf toe gesleep.

Die foto lê in ‘n boks by die huis – dit lyk asof Metgesel se tande gebind is en twee onsigbare draadjies aan sy mondhoeke trek.

“Dis ook maar goed dat jy in ‘n glas getrap het, want jy kan nie vasdans nie,” het hy gemompel.

Ons het mekaar nie weer gesien nie.

Die after party was onder ‘n afdak langs die saal waarin die formele funksie gehou is. Ek het opgemerk dat die seunskool se hoofseun op daardie stadium alleen rondgedwaal het. ”Boetie, jy’s nou my metgesel,” het ek net daar besluit. Hy was darem bereid om met my te dans. Dit het nie te sleg gegaan nie.

Toe gebeur dit: Iewers tussen die gevasdansery het ons oor die platform waarvandaan die platejoggie en sy luidsprekers hul ding gedoen het, gestruikel. Ons albei slaan toe op die einste platform neer – soveel so dat die luidsprekers uitsny, die diskolig omval en almal vir ons kyk.

My nuwe metgesel het die perseel hierna verlaat. Ons is vandag nog vriende.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button