Donderdag en Cliques – dís hoekom mense deel word daarvan
Clique-lede word onnosel as gevolg van hul clique-erige gedrag. Hoekom doen hulle dit?
- Hulle sê dat ‘n mens maklik vriende maak as jy gaaf is.
- Hulle beweer dat ‘n vriendelike ekstrovert maklik maats maak.
- ‘n Mens maak glo maklik vriende as jy mooi is.
Ontmoet proefkonyn Eloff:

Sy is gaaf, vriendlik en baie mooi. Jy kan mos sien,
Sy is ek en hoor nou vir my as ek vir jou sê: Hulle jok.
Want ek is proefkonyn Eloff en ek sukkel.
Ons het nou al vasgestel dat ander mense ook sukkel om vriende te maak in die Laeveld – lees meer hier.
Laevelders het hulle na sosiale media gewend en dit blyk dat honderde van ons dieselfde voel. “Mense is te clique-erig,” het baie Laevelders op Facebook gekla.
Dit blyk waar te wees – mense hou daarvan om deel te wees van ‘n “eksklusiewe groepie”. Dis asof almal getik is met een doelwit: hulle wil deel wees van ‘n groep uitgesoekte mense. Dit laat hulle belangrik voel.
Die Farlex-aanlynwoordeboek definieer “clique” só:
clique (kl?k, kl?k)
n. A small exclusive group of friends or associates.
intr.v. cliqued, cliqu·ing, cliques Informal To form, associate in, or act as a clique.
[French, from Old French, latch or from obsolete French cliquer, to click, clink, of imitative origin.]
Noudat ons weet dat mense graag wil deel wees van ‘n groepie uitgesoektes, moet ons vra hoekom dit so is. Die moontlike redes vir die behoefte om deel te wees van ‘n groepie spesiale mense, is uiteenlopend:
1. Jy is nog op skool. Skoolkinders – veral tieners – ervaar volgens gedragskenners ‘n behoefte aan aanvaarding. Hulle glo dat hulle dit tussen ander lede van hulle ouderdomsgroep sal kry en kloek daarom in groepies saam. Die illusie van “veiligheid tussen ander/safety in numbers” vat hier pos.
2. Individue se behoefte aan aanvaarding en “om te behoort” verklaar, volgens die boek The lifespan deur P.C. Broderick en P. Blewitt, waarom mense saamkloek in groepe. Dit laat hulle glo voel asof hulle deel is van ‘n groep mense wat mekaar uitkies.
3. Ene Hartup het in 1983 al geskryf dat mense geliefd wil voel. “Kinders en volwassenes wil só graag voel dat ander mense van hulle hou,” skryf hy. As hulle hierdie goedkeuring in ‘n uitverkose groepie kan ervaar, kry hulle presies wat hulle wil hê.
4. Berndt en Keefe het in 1996 geskryf dat diegene wat in groepe beweeg wat dieselfde dink en optree (en soms selfs eenders aantrrek), hierdie dinge doen omdat hulle bang is vir veroordeling. “Hulle is bang dat hulle die koue skouer sal kry as hulle enigsins anders optree as die res van die groep,” het hulle verduidelik.
Met ander woorde – jy kry maar ‘n kliek as jy nie andersins regkom nie. Jy kry ‘n clique as jy alleen voel. Of as jy voel dat jy nêrens anders inpas nie.
As jy, soos ek, voel dat jy nou al álles probeer het en nog steeds geen vriende kan maak wat nog nie deel is van een of ander clique nie, nooi ek jou hiermee om deel te word van my uitsoek-groepie.
Nou het ons nog net ‘n klubhuis nodig. En ‘n wapen en ‘n leuse.
Ek hoop dat hierdie blog-inskrywing jou sal laat verstaan dat dit regtig simpel is om clique-erig te wees. Geen mens kan tog gelukkig wees as jy die heletyd afhanklik is van ander om jou te laat beter voel nie.
Net so terloops: om deel te wees van so ‘n groepie maak jou dom. Die webblad businessinsider.com het verlede jaar berig dat mense wat ‘n punt daarvan maak om verskillende mense met uiteenlopende agtergronde te bevriend, met ‘n baie wyer verwysingsraamwerk spog. ‘n Kleiner groepie vriende beteken dat jy daagliks in aanraking kom met minder mense en dat jou verwysingsraamwerk vernou. Jou vermoë om behoorlike gesprekke aan te knoop en aan die gang te hou, kryn ook as jy jou wêreld verklein deur met minder mense te sosialiseer.
Doen my én jouself ‘n guns: as iemand alleen lyk, ontferm jou oor hom of haar. Doen moeite met die mense om jou en probeer tog ‘n poging aanwend om buite jou uitverkose groepie te sosialiseer. Dit kan net jou horison verbreed en jou verwysingsraamwerk soveel groter maak.
