Ek lyk nie vet nie en het nie puisies nie. My wenkbroue hoef nie gepluk te word nie en daar is niks fout met my grimering nie. My beursie is nie leeg nie en ek kan nie sien dat daar enigiets met die wêreld skort nie.
Ek het gisteroggend op my bril getrap en kan niks sien nie.
Hoe het ek dit reggekry? Dit was te danke aan hierdie universele reël: hoe meer haas, hoe minder spoed.
Ek het gisteroggend laat ontwaak en moes teen ‘n ongekende spoed bad. My brillense wasem altyd vreeslik toe wanneer ek bad. Ek bêre die bril daarom maar op die bad se rand voordat ek begin was. Iewers tussen die Palmolive en die Pantene het die bril op die badkamervloer beland en my klere het bo-op die bril te lande gekom.
Toe ek haastig uit die bad uit klim, het ek besef dat my handdoek in my kamer is. “Deksels!” het ek gemompel en my voete een vir een op my hopie klere neergesit. Toe kraak my bril soos ‘n grondboontjie onder my voet. Ek het gevloek.
Wat oor was van my bril, het aan ‘n armpie gehang. Die ander eensame armpie het saam met my bril se oorskot in ‘n koevert oogkundige toe gereis. Hy was van mening dat die bril nie herstel kon word nie en het vir my ‘n nuwe bril bestel. Ek het nie ‘n raam aangepas nie, omdat ek nie geld het vir ‘n mooi, duur raam nie.
Ons sal maar sien met watter raam my oogkundige my verras wanneer ek hom weer besoek. Intussen reis ek op gevoel deur die lewe. Of ek vandag mooi of lelik lyk, kan ek nie vir jou sê nie. Of jy mooi of lelik lyk, kan ek gelukkig ook nie vir jou sê nie.
Die lewe is ‘n verassing met verrykende gevolge. Verskoon die spelfout – ek kan nie sien nie.
Maak seker dat jy hierdie insetsel en video sien: Donderdag-die blond
