Dat ek hoegenaamd geen sin vir rigting het nie is al ou nuus. Almal weet dat ek dit al reggekry het om in Ferreirastraat te verdwaal. Net so terloops – Ferreirastraat is een lang, reguit straat.
Mense beveel oor die algemeen aan dat ek nie alleen moet reis nie, omdat sulke ekspedisies gewoonlik met ‘n noodoproep eindig nadat ek verdwaal het.
Daar was nogtans niemand anders in my rooi kar toe ek Saterdag die pad vat Skukuza toe vir ‘n dag in die wildtuin nie. Ek wou en sou egter die reis wildtuin toe alleen meemaak.
‘Hoor hier, self, hierdie pad raak nou lank,’ het ek begin dink.
Ek was veronderstel om elfuur se kant daar aan te kom. My dag was so beplan omdat ek ‘n draai wou maak by die Skukuza marathon. Dit was al ver verby 12:00 toe ek en myself weer in ‘n gesprek betrokke raak.
‘Self, ek vermoed ons het verdwaal…’
Die minibustaxi’s het meer geword en die bome minder. Daar het so nou en dan ‘n bok oor die pad gefoeter.
Toe sien ek dit:

Ek het dit reggekry om, op pad Skukuza toe, tot in Limpopo te verdwaal. Moenie my vra hoe ek dit reggekry het nie, want ek weet nie. Hierdie gewaarwording het my laat sug, waarna ek ‘n u-draai gemaak het.
Toe ek by die Skukuza marathon aankom, was die geleentheid natuurlik al lankal verby. Daar het nog ‘n paar siele in die biertent gesit en wonder wanneer hulle in staat sal wees om die perseel te verlaat. Ek het dit kortstondig oorweeg om by hulle aan te sluit en daarteen besluit.
Ek het myself eerder by die gholfbaan gaan tuismaak.
Dit was ‘n lekker dag.
My dramas as reisiger was nog lank nie verby nie. Ek en die rooi motor is vandag weer deur diep waters. Ons was vanoggend sterk op pad na ons afspraak by die verkeersmense toe. Jy sien, ek en die verkeersdepartement sit mos gereeld vas. Dis omdat hulle gereeld beweer dat ek my lisensie gekoop het. Ander kere skryf hulle sowaar vir my spoedkaartjies uit en so dan en wan irriteer hulle my maar net.
Ek was ‘n blok van hulle kantore af toe my band iets tref en ek die kar tot stilstand moes bring voor die stad se hospice.

‘n Tentpen. ‘n Verdomde tentpen. Waar in die wêreld ry jy oor ‘n tentpen – só dat hy jou kar se band deurboor?
Voor die hospice, dis waar dit gebeur het. Van alle plekke.
My voormalige werkgewer se kantoor was gelukkig net om die hoek en ‘n ou kollega het my kom bystaan in my uur van nood. Ons ruil to saam-saam die wiel om. Hy het die werk gedoen en ek het gekyk.
Toe sien ons die krater op die spaarwiel.
Ons het die ding opgesit en die kar ry. Ek lewe nog en sal môre twee nuwe bande gaan aanskaf met al my geld wat gelê en wag het om op so iets uitgegee te word.
Karma en Murphy, ek haat julle.

