My naam is Helene. Maar noem my wat jy wil, want ek word weekliks ‘n naam ryker.
Niemand onthou my naam ooit nie en wanneer iemand my naam reg uitspreek, volg dit logies dat hulle hom verkeerd sal spel. Dié wat my naam reg spel, spreek hom verkeerd uit. Ek was al Hie-lien, Hê-le-ny, Helena, Helen en Lilian. Dis ‘n verloor-verloor situasie.
Dis my ouers se skuld.
Dit was 1988 en hulle eersteling was op pad. My ouma aan moederskant het Maria Helena geheet en dié name sou ook myne wees. Tye het verander en daar is besluit dat ek met een naam die wye wêreld sou ingaan. Marilene, Heleen en Helena is ook oorweeg, maar Helene (uitspraak: he-le-nuh) is toe uiteindelik op 17 Desember 1988 gebore. Dit was die begin van die verwarring.
My ouers het my kort voor lank Heleen begin noem. My een ouma het my naam geskryf met die strepie op die eerste “e.” My ander ouma het hom op die tweede “e” geplant. Ek het besluit dat die akuut liewer op die laaste “e” moet gaan lê, sodat mense kan onthou om hom uit te spreek. Dit het nie gewerk nie en ek het afstand gedoen van die strepie.*
Ek wonder hoe die babanaam storie deesdae werk, want kinders van hierdie dekade het snaakse name. Die klein Kardashian se naam is mos North en Chris Martin se kind heet Apple. As jy gedink het dat hierdie vreemde name net oorsee opgemaak word, dink weer:

Dit verklaar baie. Kinders word deesdae gedoop met eiename wat herinner aan eksotiese vrugte (Shaniqua, Anjozeldi en soortgelyke verbuigings) en goggas (Dis nou name met vreemde z’e hier en daar). ‘n Botsing van lettergrepe is ook gewild. Nuutskeppings soos Donihan, Elindré en Eldoli sien die lig op strepe. Die Marie-gier is klaarblyklik geen gier nie – elke naam kan al die laaste dertig jaar doen met ‘n”-marie” voor- of agteraan.
Kaapse gladdebekke verwys hierna as “double-barrel” name.
Oumas en oupas word selde tradisioneel vernoem. Dis ‘n jammerte – die lewe was eenvoudig toe elke derde vrou Susanna, Maria of Magdalena was. Om “Johan” iewers uit te roep en onvoorwaardelik te weet dat iemand jou sou antwoord, is nie meer so ‘n algemene ding soos wat dit was nie. Probeer nou maar Shaun of Xavier.
Voornemende Mammas en Pappas sal hulle nageslag ‘n guns doen deur te onthou dat die naamgee-storie nie ‘n eisteddfod is nie. Jy gaan nie punte kry vir Chinzi se kreatiewe naam nie. Al wat jy gaan kry is ‘n pyn in die agterwêreld wanneer die honderdste nuuskierige agie vir jou vra of die naam jou ook aan ‘n sjimpansee laat dink. Chinatzi sal ook nie deug nie.
As jy kreatiewe name wil uitdeel, kry troeteldiere. Hulle reageer op enigiets.
Suid-Afrikaners vat darem nie die koek as dit kom by lawwe name nie. Twee Nieu-Zeelandse ouers is in 2008 beveel om hulle kind, Talula Does the Hula from Hawaii, anders te herdoop. Die name Benson en Hedges vir ‘n tweeling is ook as onaanvaarbaar bestempel.
Nadese is ek heeltemal tevrede met Helene. Of Helene-Marie op Sondae.
* Ek werk tans aan ‘n proefskrif oor die sielkundige impak wat hierdie tipe identiteitskrisis op my gehad het. Die proefskrif sal verskyn wanneer ek weet wat my regte naam is.
