Kinders by dosyne
Vir meeste mense is kinders maak, kinderspeletjies. Nie almal is egter so gelukkig nie. Wat as die potensiële liefde van jou lewe hom nie daarmee kan versoen dat jy dalk nooit vir hom kinders van sy eie sal kan gee nie?

Ek is 30. Baie vroue van my ouderdom kan nog lank wag voordat hulle kinders kry. Fisies kinders baar en kry. Ek kan nie.
My ginekoloog het vier jaar gelede voorgestel dat ek my vrugbaarheid laat toets weens ‘n onderliggende skildklierprobleem. Hy het bygevoeg dat ek, toe 27 jaar oud, ginekologies gesproke reeds oud was en dat die uitslae my in staat sou stel om ‘n beter ingeligte besluit te neem ten opsigte van gesinsbeplanning. Ek was toe in ‘n ernstige verhouding en ons het gepraat van verloof raak, so ek het ingestem tot die toetse.
Ek was min gespin. My ma het my immers op 40-jarige ouderdom gehad. Vrugbaarheid is mos geneties… Die uitslae was egter verdoemend. Ek gaan in alle waarskynlikheid baie sukkel om swanger te raak. Een van my diepste hartsbegeertes was nog altyd ‘n kind. Ek was skaars tiener toe was ek al broeis.
Ek sien op Facebook drie van my ou skoolvriende het hierdie week ouers geword. Dit is een van my vriende (ook 30), se derde seuntjie. Nog ‘n ou varsity-vriendin deel met trots ‘n sonar-foto van die derde kind wat sy en haar man verwag. Sy borsvoed nog die tweede kind en het nie eens geweet sy is weer swanger nie.
‘n Vrou het hierdie week onder Nelspruiters op Facebook gevra dat mense ‘n goedkoop kliniek aanbeveel waar haar vriendin ‘n aborsie kan ondergaan. Die reaksie was oorweldigend. Mense wat ook nie kan kinders kry nie het gepleit by die vrou om hulle in kontak te bring met haar swanger vriendin omdat hulle die kind wil aanneem.
Ek self het nie ‘n probleem daarmee om ‘n kind aan te neem nie. Dis immers daardie emosionele verbintenis en liefde wat van jou ‘n ouer maak, nie bloed nie. Ek vind egter dat dit vir sommige mans ‘n probleem is. Dis seker daardie oer-oue begeerte om hulle saad te versprei en die bloedlyn te laat voortleef, maar hulle soek kinders wat hulle biologies hulle eie kan noem. Daar is niks mee verkeerd nie.
Ek sou ook, as dit van my afhang, my eie kind wil hê voordat ek die proses van aanneming moet deurmaak. Ek het egter nie noodwendig die luukse van ‘n keuse nie.
Dit plaas nog ‘n uitdaging op my soeke na ‘n gelukkige einde. Ek is verplig om die sogenaamde beperkings op my voortplantingsvermoë aan my toekomstige maat te openbaar. Wat as hy besluit hy wil op grond van dit dan die verhouding beëindig?
Ek is nou heeltemal te ernstig só op ‘n Vryerige Vrydag. Daar is darem baie pluspunte daaraan verbonde om nog kinderloos te wees. Dis mos ‘n verdedigingsmeganisme van die mens. Ons weeg vinnig die voor- en nadele van ‘n situasie teen mekaar op in ‘n poging om beter te voel oor onsself.
Hiermee dus die voordele:
1. Ek kan weggaan net wanneer en waarheen ek wil, sonder my te bekommer oor kinders se skoolwerk of netbalwedstryde.
2. Ek kan uie en tjoklits eet en wyn drink, sonder om te worrie dat my borsmelk die baba gaan laat krampe kry.
3. Nie dat ek rook nie, maar ek kan. As ek wil.
4. Ek kan meestal ‘n heerlike nagrus geniet, sonder om telkens te moet opstaan om te voed of winde uit te vryf.
5. Sodra ‘n poefdoek opduik, kan ek die kind net so aan die ma teruggee sonder om skuldig te voel.
