Donderdag is mosiehof dag in die Nelspruit Landdroshof.
Hoe weet ek dit? Ek sien daardie rye. Dis ‘n ry klerke wat hulleself dood dra aan lêers aan die een kant. En dan is daar die ry skuldenaars wat ‘n betalingkie of twee misgeloop het en nou daarvoor moet pa staan voor ‘n klomp mense.
Die mosiehof is geen skuldenaar se maat nie.
Ek het die spulletjie onlangs so gestaan en kyk toe ek onthou waarom ek die mosiehof haat.
Dit het alles begin toe ek my debuut as regspraktisyn gemaak het in die Nelspruit Landdroshof. ‘n Mens se eerste hofverskyning is ‘n vreesaanjaende ding. Jy daag daar op met ‘n paar sake. Maklike goed, man. Heimlik dink jy dat hierdie hofsaak die wêreld gaan verander, want mev. Knyp se maandelikse afbetaling van R500 is op daardie oomblik die belangrikste kwessie op die planeet waar jy woon.
Dan kyk daai landdros so oor sy of haar bril vir jou en jy slaan uit in ‘n koue sweet.
Ek het myself aan die landdros voorgestel. Ek was maar lekker oningelig en het gedink dat ek my naam, die firma se naam en my posisie elke keer moes aankondig wanneer ek ‘n nuwe lêer oopslaan. Nege keer.
Dit was die begin van die einde.
‘n Spanningsaanvalletjie het posgevat en ek het in die harwar die lêers waaruit ek moes werk, se inhoud omgeruil.
“Juffrou Eloff, wees rustig,” komende van die landdros, het nie gehelp nie. Ek het begin ween soos ‘n speenvark. Net daar in die hof. My kliënt het skaamteloos gestaar en gewonder hoekom ék huil as dit sy is wat geld skuld.
My baas, wat ook in die hof was, het die situasie gered en namens my die hofverskyning behartig.
Dis tóé dat die polisie my bel. Iemand het my aangekla van roekelose en nalatige bestuur. In plaas van om myself behoorlik te verskoon, soos dit ‘n klerk betaam, het ek by die hof uitgehardloop om die foon te antwoord.
“Is this Miss Eloff?”
“Yes.”
“Where are you?”
“In court.”
“Okay, you must come to the police station. You’ve been accused of reckless and negligent driving. The case may go to court.”
“Well, that’s ironic.”
“Huh?”
“Never mind. I’ll get my attorney and be there as soon as possible.”
Ek is terug hof toe en moes gaan verduidelik waar ek nou heen verdwyn het. Om te sê dat die polisie my soek, was buite die kwessie. Ek blameer toe maar die spanning.
Dit was een van my laaste hofverskynings. Ek skryf nou maar liewer vir die koerant.
