‘n Troue om van te droom
Soveel soos ek hou van die tradisies van 'n bruilof, voel ek egter vrugtekoek hoort nie by 'n onthaal nie. Siesa! Jy eet dit net met Krismis

Twee varsity-vriendinne van my het onlangs getrou. Hulle het talle foto’s van hulle gelukkige dag op Instagram en Facebook gedeel.
Hulle het pragtig gelyk. Asemrowend! Ja, soos talle ander vroue droom ek reeds van kindsbeen af oor my troue, al slaap ek nie met ‘n stukkie troukoek onder my kussing (volgens tradisie) nie. Ek het al vantevore geskryf hoe lief ek is vir ‘n lekker boere-bruilof en alles wat daarmee gepaard gaan. Ek dagdroom opnuut.
Ek wil in ‘n kantrok trou. Dis outyds, sag, vroulik, klassiek, tydloos. Nie poofy nie. Nie te plain nie.
Die kleurskema sal lila-pers en silwer wees, met skoenlappers as tema. ‘n Vlinder is vir my baie simbolies van hoé liefde is, of veronderstel is om te wees. ‘n Vlinder kan nie vlieg nie tensy dit self die ingewikkelde en pynlike proses deurmaak om uit sy kokon te wikkel. Dit versterk sy vlerkies en die betrokke spiertjies en stel die insek in staat om te vlieg.
Sou jy ‘n vlinder uit sy kokon help sonder dat dit self die proses deurmaak, laat dit die insek as’t ware verlam. Die liefde is pragtig, soos ‘n skoenlapper, dog delikaat. Maats moet mekaar die vryheid gun om nog steeds hul eie lewens te leef en hul identiteite te behou.
Ek wil graag in ‘n kerk trou, of ten minste ‘n kapel. Die oumense het gesê reën op jou troudag dui op ‘n gelukkige huwelik wat op jou wag. Ek soek dit nie! Ek haat reën! G’n bruid wil in elk geval worrieoor nat hare of onweerswolke in die agtergrond op haar troufoto’s nie. Gepraat van, ek soek eenvoudige, natuurlike troufoto’s. Ek wil nie in die lug moet spring of op ‘n koei moet klouter vir effek nie.
Rose, daar moet rose wees. Blue moon of enige roos in ‘n lilak-skakering.

Ek kom uit ‘n groot familie. Ons is 30 kleinkinders. Almal is genooi, al die ooms en tannies. Hoe meer siele, hoe meer vreugde. Kinders is ook welkom! Ons gee vir hulle Nik Naks en trek hulle op hul kombersies onder die tafels in as hulle moeg raak.
Kos is die belangrikste oorweging. Dis mos die spil waarom enige fees draai. Sushi vir voorgereg. Potjiekos vir hoofgereg. Alle potte waaraan jy kan dink. Hoender, biltong, skaap, bees, seekos… Gebakte kaaskoek en witsjokolade-mousse vir nagereg. Die gaste se dankie-sê geskenkies sal ondermeer wit Lindt-balle bevat.

Daar moet drie bottels CJ le Roux-vonkelwyn op elke tafel wees: die witte, die rosé en my gunsteling – die rooie.
Soveel soos ek hou van die tradisies van ‘n bruilof, voel ek egter vrugtekoek hoort nie by ‘n onthaal nie. Siesa! Jy eet dit net met Krismis.
My pa sal natuurlik die troukar bestuur. Hy het hoeka ‘n paar jaar gelede opgemerk dat hy nie sy Mercedes Benz gaan verkoop nie, want dit moet as my troukar dien. Deesdae merk hy op dat hy dit dalk maar moet inruil vir ‘n nuwer model, want die oue kry nou te veel kilo’s op die klok. Hy raak benoud. Hy het ook genoem dat sy grootste wens net altyd was om sy drie dogters te sien klaarmaak met skool. Nou wens hy net hy leef lank genoeg om saam met my na die kansel te stap. Die arme man.
Dans sal ons beslis! Meel op die vloer en als! Die birdie-song sal speel asook Nicholas Louw se Generaal. Dis ‘n persoonlike grappie tussen my en my generaal-pa.
‘n Troue is gewis ‘n blye geleentheid. Mag alle verloofde paartjies wat eersdaags trou, ‘n wonderlike dag hê! En mag dit net een keer gebeur…


