
Ek het Google gefynkam vir grappies oor prokureurs. “Jy gaan nie veel grappies kry nie,” het ‘n kollega laat hoor. “Die mense se klaagliedere oor hulle regsverteenwoordigers is nie grappies nie. Dis gewoonlik die waarheid.”
Een webblad met grappies het my aandag getrek met ‘n waarskuwing: “Die inhoud van hierdie webblad getuig hier en daar van swak smaak, is onwelvoeglik en grens nou en dan aan die onsedelike.”
Dis te verstane – dit gaan immers oor prokureurs.
Noem hulle wat jy wil. Mense sê hulle is skelm, gewetenlose prokurowers. Maar dit is hierdie selfde mense wat die naaste prokureur se drumpel deurtrap wanneer moeilikheid aan hulle deure kom klop.
Ná ‘n paar insiggewende gesprekke het ek simpatie met jou, ou prokureur.
“Ek soek nóú ‘n prokureur!” dring party wat by jou ontvangskamer instorm aan. Vra jy hulle om ‘n deposito te betaal, is sommiges heel ontnugter. Alhoewel hulle jou ‘n prokurower noem, het hulle verwag dat jy jou dagtaak gratis sou verrig.
Soos alle diensleweraars weet, sukkel prokureurs met gewone kliëntedramas. Die verskil is dat die kliënt by die prokureur aankom nadat hy vegvoos is. Dán wil hy dagvaar. Left, right and centre.
Dan is daar die tameletjie kliëntjies. Noem hulle maar spokies, wekkers, huilers, nullers, stinkers en vermenigvuldigers.
- Spokies daag in jou ingangsportaal op. Ontydig, sonder ‘n afspraak. Hulle dring aan om jou onmiddellik te sien en jaag almal wat vir jou sit en wag op hol. Die arme ontvangsdame verduidelik dat sy blou word: “Maar u moes ‘n afspraak gemaak het. Wil u ‘n afspraak maak?” Die spokie word kwaad, word van die perseel af verwyder en doen volgende week weer dieselfde ding.
- Wekkers bel jou twee maal per dag om te hoor hoe jy met hulle instruksies vorder. Jy haal diep asem en verduidelik kalm dat jy die dokumentasie by die meesterskantoor ingedien het en nog nie terugvoer gekry het nie. Jy doen dit weer oor ses ure. Vir ses maande aaneen.
- Huilers moet verstaan: hoe langer die konsultasie, hoe hoër die rekening. Alhoewel ‘n skouer om op te huil jou kan help, behoort ‘n sielkundige, en nie ‘n prokureur nie, daarvoor betaal te word.
- Nullers: hulle betaal nie hulle rekeninge nie, maar hou aan om te vra dat jy nog werk vir hulle moet doen. Weier jy, dan is jy suinig. Hulle het die vermoë om jou vriendelik in die winkel te groet asof hulle jou nie geld skuld nie. Sommiges vra selfs: “hoe gaan dit met my saak?” (O, daardie een waarvoor jy nie betaal nie?)
- Stinkers: Baie mense konsulteer in klein konsultasiekamers. Wenk: was so ‘n bietjie voor jy saam met iemand in ‘n konsultasiekamer gaan sit. Belê in ‘n sterk anti-perspirant en kou maar ‘n pepermentjie of twee voor die tyd. Dis baie lekkerder om ‘n kliënt se klaagliedere aan te hoor wat nie stink nie.
- Vermenigvuldigers: Hy kom daar aan omdat hy net ‘n “klein vragie het oor sy elektrisiteitsrekening.” Drie ure later kan jy ‘n boek skryf. Hy is geskei, getroud en weer geskei. Daar is ‘n onderhoudseis teen hom en sy ouma en aangetroude niggie het ook asseblief jou hulp nodig. Twee jaar later het sy hele familie jou selfoonnommer en die kleinneefs drink en bestuur oor naweke. Jy besluit om ‘n klerk aan te stel. Jou klerk behartig dronk mense se borgaansoeke oor naweke en deur die week sit hy in sy hoek en doen sy werk. Klerke is uiters onbelangrik.
As mense gedink het jy ken nie van harde klippe kou nie, moet hulle weer dink. Wanneer ‘n pas gegradueerde met sy regsgraad by die universiteit uitstap, word hy hard aarde toe geklap met ‘n minimumloon. Hulle is só arm dat hulle maar broodrolletjies deur die week eet. “Een met kaas op oor ‘n naweek. Vir langnaweke bederf ek myself met ‘n aartappel en ‘n pilchard,” het een onlangs opgemerk.
Nou hoekom kla mense so oor die spul?
Dalk is ons maar net mal daaroor om nie van hulle te hou nie? Of dalk haat ons dit net om hulle van tyd tot tyd nodig te hê?
Volgende week steek ons die draad met prokureurs…
