
Boorlinge van die Laeveld kan solank hul tande begin slyp om ‘n besonderse groep perderuiters in hul midde te verwelkom binne die volgende jaar of twee.
Barberton Times het besluit om ‘n platform te skep waar perde-en-geskiedenis liefhebbers uit ons streek solank gewoond kan raak, en kan meemaak, aan dit waaraan hierdie area ook binnekort gaan deel hê.
Die span van Herdenkingsrit 2015 sal hul ondervindinge met die mense van die Laeveld deel in ‘n blog getiteld Uit die stof aan ons Hoewe op die webtuiste van Barberton Times.
Herdenkingsrit 2015
Drie vasberade ruiters het in 2012 ‘n uitdagende reis te perd aangepak vanaf die Voortrekker Monument in Pretoria tot by Bloedrivier in Natal. Hulle het dit reggekry om hierdie reis, wat oor ‘n afstand van 550 km strek, in slegs dertien dae te voltooi. Die perde het diedelfde stel skoene aangehad aan die einde van die trek as aan die begin.
Hierdie rit het bekend gestaan as die Herdenkingsrit en die stigters van dié erfenisrit, Johan Nell en Theunis van Staden het besluit om hierdie jaar die hele proses te herhaal, maar met nuwe uitdagings, ‘n nuwe langer roete en twee meer ruiters.
Patrioties is dit beslis, maar totaal nie-polities en word te perd aangepak, want hierdie edele diere is onlosmaakbaar deel van Suid Afrika en sy geskiedenis. Die rit is ‘n poging om Suid-Afrikaners te herinner aan hul geboorteland se ryke geskiedenis, insluitend hul erfenis.
Die ruiters van Herdenkingsrit 2015 sal soveel as moontlik historiese landmerke en erfenisterreine tydens die reis op pad na hul eindbestemming insluit.
Op 28 November vertrek die groep vanaf die Voortrekker Monument en 19 dae later, op 16 Desember beoog hulle om by die Vrouemonument in Bloemfontein te arriveer, in tyd vir die Geloftefees verrigtinge.
Die span is indrukwekkend. Afgesien van die vyf ruiters, Theunis van Staden; Johan Nell; Bea Hildebrand; Fiona van Staden en Leoni Neilson lees die res van die ‘bemanning’ se onderskeie rolle soos iets uit ‘n verhoogproduksie.
Brits Film Productions is die filmspan en saam met Lowveld Media, Maroela Media, Koepel Stereo en RSG sal hulle sorg dat alle platforme van media gedek word sodat die aanhangers genoegsame inligting ontvang om elke hoefspoor in die gees te kan meemaak.
By baie van die dorpe waar daar aangedoen word, sal bekende kunstenaars en gassprekers hul verskyning maak. Onder hierdie name tel die aanvallige country sanger, Mari Minnaar asook boorling van Ficksburg in die Vrystaat, Jason Bradley , ‘n country sanger van formaat. Die gewilde Boere-punk groep Beeskraal gaan ook voor in die koor wees.
Daar is nog ‘n paar bekendes wat gaan deel hê aan die reis en sodra bevestiging ontvang is, sal dit met die lesers gedeel word.
Theunis van Staden vertel “Ons wil die geskiedenis en die belang van verskeie monumente vaslê deur geleenthede, insluitende boekvoorlesings, kampvuur-aande, padkerke en vertonings deur kunstenaars langs die pad te hou by die onderseie dorpe waardeur ons gaan ry. Die ruiters gaan by die verrigtinge moet inval soos wat hulle by die betrokke terreine met die perde opdaag,“
Die slagspreuk van Herdenkingsritte lui ‘Uit die stof aan ons Hoewe ontsteek die vonk van ons Herkoms, Uit die ink van ons vere vlam die Trots van ons Toekoms‘, en dit is presies wat die span beoog om te doen.
Hierdie geskiedkundige gebeurtenis gaan skriftelik gedokumenteer word deur die befaamde skrywer van die Helde met Hoewe reeks, Juliette Whelpton. Juliette is ‘n gekwalifiseerde sielkundige en spesialiseer in navorsingskonsultasie , perd-assisterende berading en natuurlike genesing. Sy is die stigter van Healing Hooves , ‘n maatskappy wat programme aan individue en groepe asook uitreikprogramme aan gemeenskappe in nood lewer.
Hierdie voormalige Lt Kol van die SAPD, wat gesout is in die behandeling van trauma slagoffers, het ‘n diep liefde vir perde en veral die rol wat hierdie edele diere gespeel het in die geskiedenis. Sy is ‘n gesertifiseerde lid van EAGALA (Equine Assisted Growth and Learning Association) en haar tesis het gehandel oor ‘’Perde, mense, geskiedenis en genesing’.
“Perde het ‘n geweldige belangrike rol gespeel in die geskiedenis, kyk na die grootste slagting van perde in die geskiedenis, die Anglo Boereoorlog, waartydens meer as 500 000 perde gesterf het. Meer as dit is perde ‘n simbool van krag en wanneer perde as terapie gebruik word deur middel van interaksie, vind slagoffers van trauma dikwels dat die hulpmiddels wat hul nodig het om genesing te vind reeds binne hulself is,” sê Juliette.
Theuns sê hy wil graag vir Juliette en die filmspan vooruit laat gaan om die verrigtinge mee te maak. “Die idee is dat die herdenkingsrit die verskillende gebeure / persone herdenk, maar dat die geskiedenis daar rondom die fokus moet wees en nie die rit self nie. Hierdie stukke geskiedenis gaan in boek, klank en beeld vasgevang word sodat ons dit vir ons kinders en hulle kinders kan vertel en gee,“
Twee nie-opeenvolgende gedeeltes uit Die Ruiter van Skimmelperdpan deur A.G. Visser:
(Kliek hier om volledige gedig te lees)
Op die pad wat verdwyn in die Skimmelperdpan,
By ‘n draai in die mond van die kloof,
Het ‘n bom in die oorlog ‘n vlugtende man
Op ‘n perd soos ‘n swaardslag onthoof.
Want die vuurvonke spat waar die hoefslae dreun,
En dit vlam uit sy neus en sy oog;
Styf en stram sit die ruiter na vore geleun,
En die bloed uit sy nek spuit ‘n boog;
Spookperde-en-ruiters is sinoniem met Suid Afrika se geskiedenis en in elke tweede familie sal jy by een of ander oom of oupa hoor van hoe hulle iewers op ‘n afgeleë pad ‘n gedaante gade geslaan het – gewoonlik wanneer daar tussen die perd se ore deur geloer was.
Nodeloos om te sê sal geen Herdenkingsrit tot sy reg kom indien daar nie ‘n spookruiter of twee hul opwagting maak nie, dus sal daar by sekere plekke op die roete spookruiters hul verskyning maak en vir ‘n ent meemaak aan die rit. Hierdie besoekende gedaantes was die breinkind van Juliette.
Sy vertel “Perde het nog altyd ‘n belangrike plek gehad in mites en legendes. Deur die eeue het storievertellers verhale oorgedra van geslag na geslag. Volgens Romeinse mites lei perde die siele van dooies na die hiernamaals. So sing Koos du Plessis oor die pad na Nooitgedacht :
Maar die hoefslae dreun in my ore
en ‘n skim skiet stil uit sy saal ;
en die vuurvonke spat soos hy grou langs die pad,
want hy kom om sy skatte te haal.
Maar die burgers gun hom geen rus nie;
soos ‘n veldbrand kom hulle aan.
En die Mauservuur dreun en looddruppels reën –
en ek dog die einde breek aan.
Maar twee kole gloei in sy oë;
met een haal
is hy weer in die saal,
en sy perd ploeg die lug
in sy ylingse vlug,
want hy weet die dood kom hom haal.
“Spookperde en ruiters kan verseker op ons roete te wagte wees- Boere gewapen met Mausers, Britte met Lee Enfields, en Impies met spiese – op die ruë van legendariese perde soos Bokkie and Starlight van generaal De La Rey, Fleur van general de Wet, Malperd van Deneys Reitz, Colenso van generaal De Villebois-Mareuil, Dapper van General Louis Botha en vele meer,“ sê Juliette.
Oor haar navorsing vertel sy verder: “Toe ek my solo-navorsingstog aangepak het vir die eerste boek in die Helde met Hoewe reeks in 2012 het my paaie met die van Theunis en sy mede ruiters gekruis waar hulle die eerste herdenkingsrit vanaf Pretoria na Bloedrivier gedoen het. Nou is die sirkel voltooi. Fleur en Bokkie is die vrug van my pen en die Herdenkingsritspan is gereed vir hul tweede rit. Hierdie keer is ek deel van die span en sien baie daarna uit om die 2015 rit te dokumenteer en in ‘n boekformaat te dokumenteer – die rit van ons ruiters en hul perde terug in die verlede, gallopend saam met die spookperde!” sê Juliette.
Inwoners van Mpumalanga kan hulself solank regmaak vir die derde van haar gewilde boeke uit die reeks Helde met Hoewe , want die volgende perd wat sy storie gaan vertel is Dapper, die staatmakerperd van Generaal Louis Botha, wat op ‘n tyd deel was van hierdie deel van ons land.
Die publiek hoef ook nie leë hande en hunkerende harte te staan soos kleintjies wat moet sien hoe die maatjies alleen lekkergoed eet nie. Daar sal in van die dorpe geleentheid wees vir ruiters uit die gemeenskap om ‘n ent van die rit mee te maak. Hierdie ope-dae sal plaasvind op die derde en vierde Desember op die paaie van Parys na Vredefort en vanaf Vredefort tot Koppies deur die Vredefort Koepel Erfgebied. Die volgende opedag sal van 13 – 14 Desember geskied vanaf Verkeerdevlei tot by Maselspoort.
Theuns som sy dryf vir die projek so op:
“My kind moet weet wie was haar voor-oupa grootjie Kommandant MP van Staden wat eens leiding geneem het van die Waterbergkommando onder die wakened oog van die berugte Genraal Beyers. Ek wil haar na die hange van die magaliesberg neem en gaan wys waar haar Oupa Grootjie met gebed en toewyding ‘n hele Skotse en Engelse peleton dwarsoor die magaliesberge gejaag het.
Ek wil haar gaan wys by Vrymansrust net anderkant Nelspruit waar haar voorouers so bewoë, dankbaar was dat hulle uit die kloue van die bloeddorstige oorlog was, dat hulle die stroom gedoop het.
Ek wil haar gaan wys by Bloedrivier waar haar Voorouer-oupa grootjie vir Sarel Cilliers die gelofte neer gepen het! Ek wil haar vertel van Jan Bantjes wat nie met met ‘n geweer of ‘n swaard geveg het nie, maar met ‘n pen, ‘n pen wat nie die Zoeloes dood geskiet het nie maar veel eerder die mure van vergetelheid stukkend geskiet het.
Ek wil haar vertel dat general De Wet onder die magtige oorhand van geweldadige Britse koeëls uitgejaag het en baklei het nie met ‘n geweer nie, want sy geweer gaan nie berg plat maak nie. Ek wil haar vertel dat ek en sy net soos Generaal De wet teen mens en natuur en oorwig van waarskynilkhede kan beklei met geloofgefundeerde moed, moed wat in ons are vloei, daardie tipe moed wat my verpligting is om haar te wys.
Ek wil haar vertel dat sou Generaal de Wet nie sy kameraad Fleur gehad het nie, hy nie oor die Magaliesberg deur ‘n haas onbegaanbare pas kon jaag om sy lewe te red nie – ‘n Arabierperd soos ek, haar pa, het. Dat ek nie in oorlogtyd groot geword het nie, maar groter oorloë moes veg. Dat ek ook soos Generaal de Wet van ouds, onder die strawwe reën van hoërskool, aanvaarding, verlies, onsekerheid en ‘n haas onuithoudbare dinamiese Suid Afrika, uitgejaag het op my Arabier, my perd, my Fleur. En elke keer wanneer ons twee die kruin van ons denkbeeldige Magaliesberge bereik, dan kyk ons af na die klein figuurtjies van verdrukking, bespotting en verwagting en dan, dan grynslag ons saam – ek en my vertroueling – ek en my Fleur, ek en my perd, my Neshar.
Sy moet weet dat ‘n man kan huil, nie van hartseer nie, nie van seer nie maar bloot van nederigheid as hy die wonder ervaar van ons Skepper se grootsheid en sy genade beleef. Dat ‘n man rooi-oog kan uitstaar oor die groen plat kruine van ‘n bosveldtoneel stewig in sy saal – viervoetig tussen die klippe van Kameelkop.
Sy moet weet sy vandaan kom, van nederige trots, want ja, daar is so iets. Sy moet weet dat sy behoort, en dat sy hier behoort, hier waar ons voetspore lê, hier in Suid Afrika, hier by my.
Ek wil haar vertel dat ek haar Fleur sal wees altyd wanneer die wêreld te veel druk, en as ek faal deur menslikheid sal ek sorg dat sy ook ‘n Neshar kan hê en ook sy taal kan verstaan, sodat hy haar ook die storie kan vertel wat van geslag tot geslag deur sy are gevloei het sedert die begin van tyd.
Die storie van die mens en sy probleme en hoe daar op die stoere rug van sy rydier van alles wat sleg is, weggejaag kan word.
So die vraag refrein in elke dorp, elke geselskap en elke opstal waar ons aangaan – hoekom?
Ek weet nou hoekom. Ek wil haar vertel – en as ek nie weet nie, kan ek haar nie vertel nie!”
Inwoners in die dorpe waarlangs daar gereis gaan word, word genooi om interresante stories wat deur hul voorouers aan hul vertel is, oor die geskiedenis van hul dorpe te stuur na herdenkingsritte@gmail.com. Die stories kan moontlik deel uitmaak van die beplande herdenkingsboek.”
Die roete is as volg:
28-Nov Pretoria, Voortrekkermonument
30-Nov Krugersdorp, Paardekraal
2 Des Parys, Danie Theron
3 Des Vredefort
4 Des Koppies
6 Des Kroonstad
8 Des Ventersburg
9 Des Winburg
14 Des Brandford
15 Des Bloemfontein
16 Des Vrouemonument
Instansies:
Solidariteit beweging; FAK ;
Die Erfenisstigting ;
Die Voortrekkers;
Healing Hooves ;
Die Vrouemonument
Begunstigdes:
Herdenkingsritte Trust Fonds;
Helpende Hande;
Jakaranda Kinderhuise ;
Die Erfenisstigting.


