Aan die woord: Johan “Bittereinder” Nell – Ruiter van Herdenkingsrit 2015
Ek is ‘n boer, soos my pa en sy pa, en die se pa en sy pa voor hom. Ek is ‘n Afrikaner, ek is vreesloos en nimmereindigend. Woorde soos ophou, ingee of halfpad bestaan nie in ons wese nie, tot aan die bittereinde bly ons getrou aan wie ons is.
Gedurende Desember 2012 het ek en twee vriende, Theunis Philippus van Staden en Adel Kotze die haas ondeurdenkte plan deurgevoer om te perd, soos ons vadere van ouds, die wind en weer te trotseer.
Ons het ʼn gedenkrit tussen die Voortrekkermonument en die Bloedrivier-monument aangepak, sonder die voordeel van ondersteuningspanne en voertuie en ‘n juigende skare navolgers. Net drie jong mense met, hetsy gebrek aan verstand of oormatige waagmoed, elk op sy kameraad en vertroueling se rug.
Suid Afrika is getem op die rug van ‘n perd en die gekreun van ossewawiele, en so het ons die tog aangepak – gewapen met proviand en ʼn hart vol vertroue op die beskerming van die Hoër Hand en die gasvryheid van Afrikaners, boere soos ons. Harde mense – vol liefde, vol omgee vir mekaar en vol waardering. Mense wat lewe in dankbaarheid. Staatmakers en bittereinders.
Ons het geglo in die welwillendheid van boere op ons pad, en nooit was ons teleurgestel nie. Elke aand met afsaal was daar ‘n boeregesin wat ons gehuisves het, wat voer vir ons perde voorsien het, ons in hulle huise toegelaat en ontvang het asof ons deel van die familie was of ou vriende, eg aan ons kultuur. Gasvrye mense, die sout-van-die-aarde mense. Te veel was daar om hulle hier op te noem, maar diep was ons waardering vir elke bord kos en sagte bed na ʼn dag in die saal, van son-op tot son-onder en menigmaal nat tot op die been.
Deur die verkeer van Pretoria in die gietende reën, oor die vlaktes van Delmas en Leandra en die Oos Transvaal. Oor die Drakensberge tot in die groen valleie van Natal. So het ons getrek vir twaalf dae.
Waar ons gekom het is ons avontuur bespreek, ons stories vertel. Ons wou almal herinner aan die Gelofte, vir die wat vergeet het tot die wat nooit geweet het.
Ons het die rit afgelê, met beskerming van die Aller Hoogste, sonder beserings aan ons self of aan ons drie dapper perde. Byna 600 km het hulle ons getrou gedra tot aan die oewer van die Bloedrivier. ʼn Paar noue ontkomings was daar wel, maar dit is Afrika. As dit maklik was het almal dit as ʼn naweek uitstappie gedoen. Nee goeie leser, dit was alles behalwe.
Dit was taai, ratel-taai. Fisies en geestelik. Op ons, en ons perde. Wanneer ons afgeklim het, het ons self die pak gedra, want om nog meer van jou perd te vra is strafbaar met weerlig en twee weke in die vagevuur!
Mense het my gereeld gevra of ek dit weer sal doen. My antwoord was vroeër botweg gewees: ”Nee! Ek sal veel eerder die tandarts besoek”, maar met die tyd vervaag die swaar en bly die goeie en met die aanslag op dit wat vir ons dierbaar is, het ek in die skadu van die Magaliesberge gestaan en besin.
As berge maar kon praat. Links voor my was Kommandonek. Daar waar generaal De Wet op sy vurige Arabierperd Fleur saam met sy kommando vasgetrek deur ‘n magdom Britse soldate. Dit was asof ek kon hoor: “Ruk op, burgers – ons kan en moet daar oor. As ‘n bobbejaan dit kan doen kan ons ook!” Man en perd is die reguit kloof op, veilig tot aan die anderkant. Regs van my was die hoogste punt van die berg: Nooitgedacht.
Meer as 100 jaar terug het generaal De la Rey, trots op sy geliefde merrie Bokkie, die opdrag aan sy manne gegee” “Storm”. Die soldate is aangeval en die oorwinning het aan die boerekommando behoort.
Gaan ek weer ‘n herdenkingsrit aanpak? Ja! Ek sal dit weer doen. Ek sal meer doen! Ek is ‘n boer, soos my pa en sy pa, en die se pa en sy pa voor hom. Ek is ‘n Afrikaner, ek is vreesloos en nimmereindigend. Woorde soos ophou, ingee, of halfpad bestaan nie in ons wese nie, tot aan die bittereinde bly ons getrou aan wie ons is.
By my in die kamp onder die Kareeboom by die Magaliesberge het die grys skimmel gewei waar hy langtand aan ’n pol droë oulandgras getrek het. Hy is nie meer jonk nie, maar die vuur in sy oë is lank nie geblus nie. Ek het die oudergewoonte skril beesfluit gegee en Rommel het sy groot kop orent gebring en en sy ore gespits.
“Ai Rommel, hoe voel jy oor die saak.” Stadig het hy nader gestap asof ek ʼn klein bederfie in my sak gehad het. Ek het die plan met hom bespreek. Kyk, ʼn man kan nie so ’n plan maak sonder om die insette van sy perd te kry nie! Ek het my hartsprobleem aan hom verduidelik, en versigtig gevra: “Sit dit nog in jou ou man, my pantserwa, my staatmaker?” Rommel se oë het geblink terwyl ek sy swaar nek gevryf het. Dan staan kyk hy my of ek te veel van my eie perskemampoer gedrink het. “Natuurlik sit dit in my. Ek is ‘n Boerperd en ek is JOU Boerperd! Ek is ʼn perd soos die Rooibok.” Rommel het die grond met sy hoef gekap, gerunnik en deur sy neusgate geblaas, weggestap en in die stof gaan rol.
Daar is al by verskeie geleenthede geredeneer wie is die moeilikste, ek of Rommel. Eintlik is ons presies dieselfde. So ietwat dwars. “Kan nie” is ʼn sinoniem vir “dit klink na ʼn gawe gedagte.”
Nou sien, as ʼn man jou perd ken en jou perd ken jou, dan weet jy wat hy dink en hy weet wat jy dink. En ons dink net die selfde. Ons dink dit steek nog in ons om te wys wat ʼn man op ʼn perd kan doen!
In my gedagte hoor ek al die val van die perdehoewe in die lang pad, die reuk van stof en sweet en die gekraak van leer stiegrieme. Hierdie sal weer ʼn avontuur wees om op te teken in die anale – ʼn asem-wegrapende avontuur – ʼn avontuur om almal te herinner waar ons wortels lê.
