BlogsOpinion

Nic van Zyl was ‘n groot gees in die dorp

Nic van Zyl vertel in die onderhoud dat hulle maar met min hier aangekom het. Hulle het in 'n woonstel ingetrek en hy moes raap en skraap om meubels te kry vir sy eerste kantoor in die ou Volkskasgebou op die hoek van Voortrekker- en Besterstraat.

MBOMBELA – ‘n Jong ouditeur, pas klaar met sy pupilskap, Nic van Zyl en sy vrou Esmé het in 1953 in Nelspruit aangekom om hier sy loopbaan voort te sit. Die dorp was sy keuse na hy die vorige jaar ‘n oudit hier moes doen. Toe Nic van Zyl in 1976 – 23 jaar later, vir die tweede keer tot die amp van burgemeester verkies word, was hy ‘n goed gevestigde sakeman en plaaslike politikus en gewis een van die mees invloedryke manne om mee rekening te hou hier rond.

Met sy tweede termyn – vandag weer 40 jaar gelede, in Die Laevelder van 16 April 1976, verskyn daar ‘n lekkerlees-onderhoud met Nic van Zyl en Esmé. Vandag is hy al enkele jare dood. Esmé lei steeds ‘n aktiewe lewe tussen haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders hier op Nelspruit.

Nic van Zyl vertel in die onderhoud dat hulle maar met min hier aangekom het. Hulle het in ‘n woonstel ingetrek en hy moes raap en skraap om meubels te kry vir sy eerste kantoor in die ou Volkskasgebou op die hoek van Voortrekker- en Besterstraat. Mense het hom gewaarsku dat hy hom te laat op Nelspruit kom vestig het. Al die geleenthede is reeds geneem. Hy gaan sukkel om klante te kry.

Met hulle aankoms was die dorpsgrens waar Mostertstraat vandag is. Kort daarna het die dorpsraad uitbreiding drie ontwikkel. Die Van Zyls het ‘n skemahuis in Kestellstraat kon koop, ‘n kaal plek op die rand van die dorp. Half in die veld.

Hy het vroeg in die plaaslike politiek belanggestel. Reeds in 1955 word hy onbestrede tot die stadsraad verkies. In 1962 is hy tot die bestuurskomitee verkies. Nic van Zyl se eerste termyn as burgemeester was vanaf 1970 tot 1971. Teen 1976 was hy die langsdienende stadsraadlid wat die dorp tot nog toe gehad het.

Met die onderhoud in Die Laevelder in 1976 vertel Nic van Zyl dat die onlangse oprigting van die Van Riebeeckpark se munisipale sport- en ontspanningsgeriewe sy groot trots is. Dit was meer as wat baie ander dorpe die grootte van Nelspruit, destyds kon regkry.

Sy betrokkenheid by die verskaffing van skaflike behuising en woongebiede vir die anderskleurige gemeenskappe van toe, was ook ‘n hoogtepunt in sy loopbaan. Hy vertel van die destydse Nelindia-buurt wat later Valencia geword het. Oor ‘n voorstad vir die plaaslike bruin gemeenskap het hy hom toe nog baie bekommer. Daar moes ‘n plan gemaak word, het hy in die onderhoud gesê. Dit het later tot die ontstaan van die huidige Nelsville gelei.

Gemeenskaps- en kerksake was die Van Zyls na aan die hart. Teen 1976 was hy ook die langsdienende ouderling in die NG Suid-gemeente.

Esmé van Zyl was die eerste prinsipaal van die Cecelia van Wijk-kleuterskool en ‘n bestuurslid van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie. Sy was betrokke by kreupelsorg, sameroeper van die huisvlyt-afdeling by die Laeveld Skou, die plaaslike musiekvereniging, die Suiderkruis en die Laeveld Landbouvereniging. Sy was ook op die beheerliggame van Laerskool Bergvlam en Nelspruit Hoërskool en lief vir tennis en brug.

Nic van Zyl se groot nalatingskap was die stigting van Laeveld Trust in 1976 met 200 beleggers. Dit het aan baie ‘n sakebelang in die dorp gegee en grootliks bygedra tot die ekonomiese ontwikkeling van die dorp en omgewing. Laeveld Trust was ook op ‘n stadium die eienaar van Die Laevelder.

Terugskouend was die egpaar Van Zyl fyn kultuurmense. Buiten die feit dat Nic van Zyl ‘n stewige sakeryk in die Laeveld tot stand gebring het wat ook welvaart aan ander gebring het, het die egpaar ‘n vol lewe gelei op gemeenskap-, welsyns- en kulturele gebied. ‘n Mens staan verstom oor waar die energie vandaan gekom het.

Heelwat van die inligting wat vandag in die argief van Mpumalanga Erfenis behoue gebly het, is historiese en herinneringskrifte wat op aandrang van Nic van Zyl neergepen is.

Waar hy gekom en met watter ouer inwoners hy gesels het, was altyd vir hom belangrik sodat niks verlore gaan nie. Hy was altyd gereed met pen en papier, ‘n bandopname en later ook met ‘n videokamera. Hierdie word moontlik nog sy grootste nalatingskap.

LVF0108_001_1163058626

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button