Ek het ‘n fout gemaak wat in Dinsdag se koerant gepubliseer is.
Daar is twee broers in ons streek wat betrokke is by misdaadvoorkoming en verskeie gemeenskapsprojekte. Ek het ‘n berig geskryf oor hulle. Die een broer se foto is gepubliseer met die ander een se naam onderaan.
Die gewaarwording het my soos ‘n pap vis in die gevreet getref:
My reaksie?

Daar is min dinge wat so kan vassit soos ink op papier.

Die probleem is permanent. Selfs al was jy die fout met spiritus van jou uitgawe van die koerant af, bly die feit staan: daar lê ‘n replika van die koerant op jou buurman se voorstoep. En ‘n paar honderd op die kruidenierswinkel se rak.
Om jouself van kant te maak is nie ‘n opsie nie, want die volgende uitgawe se saktyd is om die draai.
Op ‘n ernstiger noot, wil ek gesels oor die reg en aanlynmedia.
Die media het ‘n slagveld geword en ek staan in die middel daarvan.

Waarom sê ek dat die media ‘n slagveld geword het?
Die wêreld is midde ‘n rewolusie. Die digitale rewolusie behels die oorgang van meganiese en analoë tegnologie na digitale tegnologie. Rekords word al hoe meer digitaal gehou en fisies tasbare, geskrewe werk word met werk op rekenaars vervang. Die koms van die internet tussen 1988 en 1991 het alles verander. Aanvanklik was die verandering van briewe na e-posse groot nuus.

Die koms van sosiale media het ons kommunikasiestrukture en maniere van dink verander. Mense skil nie meer appeltjies met mekaar nie. Dis hulle aanlynprofiele wat mekaar in die kuberruim te lyf gaan. Dinge gebeur binne sekondes aanlyn.
Koerante se daaglikse of weeklikse saktye het outydse terme geword.
Die gevolge hiervan is:
- Lesers verwag van koerante en joernaliste om nuusberigte direk van tonele af uit te saai. Die nuusberigte word op koerante se webwerwe gelaai en via sosiale mediaplatforms versprei.
- As nuus nie kitsnuus is nie, is dit ou nuus.
- Om feite te bevestig, vat soms tot soveel as 48 uur.
- Joernaliste skryf dus nou kraakvars nuusberigte, wat opgevolg word met ritse berigte soos brokkies inligting beskikbaar word. Die inligting word dikwels gepubliseer as “huidige bewerings” en later bevestig.
- Die dringendheid wat die bedryf vereis, doen soms afbreek aan gehalte joernalistiek wat van ‘n bietjie meer navorsingstyd afhanklik is.
- Massas inligting sirkuleer op sosiale mediawebwerwe. Baie hiervan is lasterlik. Baie hiervan is onakkuraat. Behalwe vir joernaliste se tradisionele pligte, moet daar deur massas bykomende inligting gesif word om vas te stel watter aanlyninligting loutere onsin is.
In die middel van die slagveld?
As regsgeleerde wat nou as joernalis werk, is ek alewig in ‘n tweestryd. Ek hou van reëls. Wanneer ‘n storie die wêreld ingaan, moet die reg die persoon oor wie daar geskryf word, beskerm. Dit gebeur nie altyd nie, omdat die reg wat sosiale media gebruikers en – meer spesifiek – joernaliste se aanlyngedrag reguleer, vaag en verwarrend is.
Die regulasies wat wel bestaan, is in hoogdrawende taal geskryf en word nie doeltreffend aan die media gekommunikeer nie.
As dit jou werk is om te sorg dat “die waarheid” of “die storie” die lig sien, is dit vanselfsprekend dat jy vae regulasies eenkant toe gaan skuif en op jou storie gaan fokus. ‘n Mens konsentreer mos op dít waarvan jy weet.
As niemand jou behoorlik ingelig het oor wat jy mag en nie mag doen nie, is die risiko dat jy grootskaalse skade kan aanrig met wat jy onregmatig publiseer, groot.
Navorsing aan die Universiteit van die Witwatersrand* het die media se benadering tot aanlynberiggewing as “mog-het-troffe” beskryf.

Navorsing deur dieselfde universiteit het in 2014 laat blyk dat aanlynnuusverslaggewing toeneem en talle uitdagings vir die mediabedryf inhou.
Die status quo is een waarmee ek as joernalis nie kan volhou nie – nie sonder ‘n duidelike, verstaanbare riglyn van wat die reg van my verwag nie. As regsgeleerde druis dit in teen alles waarvoor ek staan. Die mense oor wie ons berig kan ook nie daaronder ly dat Suid Afrika se reg wat ‘n effek het op sosiale mediagebruikers, onduidelik is (of vaag gekommunikeer word) nie.
Daarom doen ek sedert Desember 2015 navorsing aan die Universiteit van Pretoria, waar ek my meestersgraad in die reg teen Oktober 2017 sal voltooi. My verhandeling is getiteld:
“The effectivity of South Africa’s media defamation law in a Constitutional, online age.” Die navorsing wat ek doen, stop egter nie daar nie. Wanneer ek saans van die kantoor af terugkom, sorg ek ook dat ek sosiale mediareg in die algemeen navors.
Ek beskou dit as my roeping om die reg vir verslaggewers en ons lesers meer toeganklik te maak.
Om ‘n verslaggewer te wees in 2016 is nie maklik nie. Ons staan met een voet in die gedrukte media, terwyl die ander voet staanplek probeer kry op die web.
*Wits State of the Newsroom 2013.




