Liesbet van die Laeveld: Die dag toe die girl een van die manne geword het
Liesbet 007. Renosterredder met 'n ongewone wapen in haar kamerasak tot almal in kakie se verbasing . . .

SKUKUZA-Die dag toe ek by die plattrek van ‘n renoster in die Kruger Wildtuin ewe kalm my knipmes uit my kamerasak haal, was ek ekstra kommerkoel daaroor.
So asof ek my nou nie onkant in die bos laat betrap deur die groter rampe van die lewe nie.
Soos ‘n oud-Voortrekker altyd voorbereid.
Die span veldwagters en vee-artse is toe op ‘n punt wat hulle gereedskap nou nie meer so lekker gewerk het nie. Ek was besig om te leer dat ‘n mens se renoster se koors nou die beste op ‘n tere plekkie meet toe ek nou agterkom hier is nood.
Die moeilikheid was toe dat die ou grote, wat toe reeds ietwat beneweld gelê het, ‘n leervoetgordel moes kry met allerlei tegnologiese aanpassings daarbinne vasgemaak. Om nou die stropery te beperk.
En toe is die stewige, dik leervoetband te lank en moet netjies afgeknip word. Die manne se sagies en skêre ensoaan is toe reeds stomp en afgebreek. Die tyd is min want die ou nors gehoringde gaan net so lank en ook nie langer suutjies sus. Vermoedelik is hy nie in die beste van buie as hy opsukkel nie.
Dis toe die befaamde wetenskaplike opkyk van die leerband in sy hand en so half moedeloos rondloer soos ‘n soldaat sonder ‘n roer dat ek besef ek moet my kant bring. Nie een van hule het meer raad of harde ware wat kan help nie.
En ek sê vir myself: “Come on, be a girl!”
Nou is dit so dat niemand eintlik ooit sulke vindingryke selfgeldende gedrag van my verwag nie. Maar dis nie te sê as jy jou lewe in hoë hakskoene deurbring dat jy nie tot macho manne in kakie se redding kan kom nie.
Ek is toe deur die groep op die mediatoer gebrandmerk as die ou Softie. Miskien was dit die voortslepende gehuilery rondom die renosterwesies en die eindelose baie snesies. Of al die “ag moedertjie tog!” rondom die langoor spoorhonde. Of die vertraagde skoktrane wat sporadies snikkend oor my gekom het nadat die hiëna my die vorige aand in my satynpyjamas voor die toilet vasgekeer het…
Sal ek ooit die ou oomblik van oorwinning vergeet toe ek ewe nochalant die ou rooi Swiss Army knipmessie uithaal en aangee. Soos een man draai die kakie-kontingent om en bekyk my ongelowig van onder na bo.
Dis asof nuwe respek oor hulle daal. En hierdie girl word een van die manne. Lid van die Klub van Renosterredders. Al is dit nou net vir die oomblik wat die mes gebruik word om die band te sny.
Nou is dit so dat ek nogals glo aan dinge soos vasbinders, ‘n knipmes en ‘n jammerlappie vir my kamerasak. Vir die wis en die onwis. Noem dit maar my MacGyver-instelling. Sien my maar as iemand met ‘n geheime agent wens. (En altyd ‘n biltongtjie om te kerf, ‘n lipstiffie om oop te maak of ‘n skroefie in die kamera om vas te draai.)
Liesbet 007. Ek verkies my tiermelk ook geskud en nie geroer nie. Of so iets.
Maar ek besef ook dat bewaring verg meer as om ‘n knipmes op die regte tyd uit te ruk. So ek het maar net die lem so teen my kakiebroek na die tyd afgevee en die skerp punt teruggeflik in die houertjie en my kamera op die ou grote gerig.
Die volgende dag sou ek weer groenboontjies daarmee kerf met al die boerekostrieks wat my ma my geleer het, maar vir eers was ek MacLiesbet van die Kruger, redder van vee-artse, renosters en veldwagters.
Toe die ou logge twee ton skaars dier weer wankelrig op sy pote kom, het hy daar weggestap met sy nuwe armband asof hy weet hy het sy eie bling. Nommerpas.

