Ek vermy troues. Dit maak my kloustrofobies en angstig en irriteer my.
Om mee te begin verdwaal ek altyd op pad na die troue toe. Sonder uitsondering.
Niemand trou meer in ‘n dorp se grootste kerk en hou die onthaal in die saal langsaan nie. Nee, daar moet gereis word na een of ander venue toe, gewoonlik anderkant Danville of duskant Delmas. As jy nie per Uber daarheen en terug reis nie, is verdwaal jou voorland. As jy van Uber gebruik maak, mag jy dalk bankrotskap in die gesig staar.
Jy daag by die venue op. Die reuk van plaasdierpoef of myndorpwalms hang in die lug. Maar daar is ‘n venue en ‘n dam en ‘n piepklein kappelletjie, so jy maak asof jy dit nie ruik nie.
As jy ek is, daag jy alleen by troues op. Jy en jou gelaaide selfoon. Julle sal maar Facebook.
Die bruid lyk pragtig. Ek wonder wat haar rok gekos het.
Die bruidspaar verdwyn vir foto’s wat my Facebook nuusstrook oor twee weke gaan oorheers. Hulle moet die fotograaf se belaglike fooi van R20 000 die moeite werd maak. Die res van ons drink maar.
Binne-in die saal wonder ek wat die versierings gekos het en of die venue dit darem oor en oor gebruik. Die dansvloer word geopen en paartjies storm daarop af sodat net ek en die een enkellopende ou agterbly. Ons ignoreer mekaar. Ek gaan sit buite.
Die jong getroudes het gehoor hoe hulle die huwelik moet benader en beloof om deurlopend te kommunikeer en mekaar te respekteer en “mekaar lief te hê tot die dood ons skei.”
Die van der Merwes het dit plegtig beloof in 2014. Ek was daar. Sy gee hom die vuil kyk want sy reken hy moenie so baie met die vrou aan sy ander kant praat nie. Hy gaan loop ‘n draai en mis een van die seremoniemeester se grappies wat jy al tien keer op ander troues gehoor het.
“Wat het hy gesê?” vra mnr. van der Merwe met sy terugkeer.
Mevrou antwoord hom kil, die lippies kwaai getuit: “Ja, natuurlik sal jy vra, jy’s nooit hier wanneer jy moet wees nie.”
“Huh?” dink ek.
Die twee hap mekaar heelaand. Die Coetzees, wat in 2013 getrou het, is goed die duiwel in vir mekaar. Die man drink homself kis toe en val drie keer agteroor. Van die stralende 2013 bruidspaar is daar min oor.
Dis pampoentyd en ek kan uiteindelik die perseel verlaat. Ek loop in Anje vas. Sy was die eerste van ons matriekgroep wat getrou het in 2010. Sy is geskei en het nou ‘n nuwe kêrel. Hy is bombasties en gee haar skaars praatkans.
Nee wat.
As ek dan nou eendag moet trou, sal dit “on location” in Botswana wees. Kom daar op jou eie koste en bring jou selfoon sodat ek ‘n paar foto’s kan hê. Ek is kapabel en hou sommer ‘n braai. Jy sal darem nie jou eie vleis hoef te bring wanneer ek in ‘n wit somerrokkie met ‘n veldblomruiker afhaak nie.
