
Vrydagaand staan ek en my pa langs die braaivleisvuur by een van my gunstelingplekke, Marlothpark, toe die volgende gesprek plaasvind.
Ek: “Jis, pappa. Amper gril ek my dood.”
Pa: “Hoe so, ounooi?”
Ek: “Ek het amper ‘n sluk van pappa se whisky gevat en ek hou mos niks van whisky nie.”
Pa: “Ja, ek hou mos eintlik ook nie van whisky nie.”
Ek (deurmekaar): “Maar pappa drink dit dan.”
Pa: “Maar whisky hou van my en ek hou mos nie daarvan om mense teleur te stel nie.”
En vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd lag ek uit my mag uit dat die trane loop. Skielik raak ek bewus van hoe Kris Kristofferson
saggies in die agtergrond speel, die vuur wat knetter en my ma wat met braaibroodjies aangestap kom.
LEES OOK: Die kuns van omgee
Dit herinner my aan soveel kere vantevore wat ons gesin al in Marloth vakansie gehou het. Die rooiwyn, die laatnag Rummy, die skaterlag vir my pa se stories en die liefde van my ma se drukkies.
Ek was verbaas oor al die veranderinge toe ek hierdie naweek vir die eerste keer in meer as ‘n jaar by Marloth inry. Skielik is daar ‘n mini -waterpark opgerig en die geliefkoosde The Tin Shack-restuarant is oorgebou. Met hierdie nuwe verwikkelinge is dit as’t ware die Hartenbos van die bosveld.
Saterdag laatmiddag staan almal langs die draad van die Nasionale Krugerwildtuin en kyk na hoe die diere by die rivier staan en drink. Ons ry terug na ons blyplek en sien hoe ‘n pa met sy hoërskoolseun langs die pad stop en hom skelm ‘n slukkie bier laat vat – om minderjariges te laat drink is ‘n eeue oue bosveldtradisie.
Dan word die braaivleisvuur weer aangesteek, die park se diere kom soek kos en die vorige aand se gebeure herhaal hulself.
Ek ry Sondag baie moeilik terug Mbombela toe, met my hart wat saam met my ouers in die park agterbly, maar ek klou ook aan die wete dat ek binnekort weer sal terugkeer.
LEES OOK: Mei-maand was nie my maand nie
