BlogsOpinion

Die natuur se hardeware

Voor die koms van die beskawing het inheemse mense waarskynlik 'n intieme kennis van bome en plante en hulle eienskappe gehad.

Daar is deesdae sulke groot hardewarewinkels waar mens alles kan kry wat jy nodig het om jou blyplek mooi te maak. Dis eintlik ‘n fees vir die oë en mens voel sommer lus om te begin bou. So het die vroeë mense waarskynlik gevoel oor ons boswêreld. Voor die koms van die beskawing het inheemse mense waarskynlik ‘n intieme kennis van bome en plante en hulle eienskappe gehad. Selfs die vroeë wit pioniers was afhanklik van inheemse hout vir die bou van ossewaens en huise.

Ons boswêreld is boomwêreld en jy kan kies en keur tussen houtsoorte en ander boumateriale. Mooi hout vir meubels, harde hout vir implemente en pikstele, sagte hout vir lepels, hout wat kan buig, en selfs hout wat kan hop! Dit is als daar as jy net bietjie gaan soek.

lood fotos 1457 (600 x 450)‘n Bekende boom by ons is die hophout (Trema orientalis) wat seker sy mooi naam kry omdat die hout so lig is. ‘n Droë tak is nogal veerkragtig, en lyk of dit ‘hop’ of terugspring as jy dit teen ‘n harde ding slaan. Die hout is redelik sag en word in Tanzanië gebruik om houtskool te maak. Dit is ook geskik om papier van te maak. Die bas word gebruik om tou en lyn te weef en visnette waterdig te maak. Die boom groei baie vinnig en word soms naby woongebiede aangeplant om duiwe te lok wat dan gejag word, vandaar die engelse naam ‘pigeonwood’.

As jy n tak van ‘n hophout afkap, verlep die blare vinnig, maar kap ‘n tak van ‘n hardehout soos die Natalse gwarrie (Euclea natalensis) en na ‘n paar dae lyk die blare nog dieselfde. Die hout van die gwarrie is hard en swaar en maak ‘n goeie kierie, en sommer ‘n lekker wapen ook! As jy egter ‘n voelstok vir ‘n blinde persoon wil maak, of sommer ‘n lepel, gaan jy eerder ‘n ligte hout soos hophout gebruik.

Vir duursame hout is kiaat (Pterocarpus angolensis) seker die algemeenste in ons wêreld. Baie Laevelders het nog kiaatmeubels en -bakke in hulle huise. Voordat die Laeveld bewoonbaar was, het pioniers in die winternaande met die beeste hiernatoe afgetrek en blykbaar kiaatstompe op hul waens teruggevat Hoëveld toe. Die pragtige boom is vandag al erg uitgeroei en die hout het skaars geword. Hout soos mingerhout (Breonadia salicina) is nog meer gesog en skaarser en sy boom, ook bekend as matumi, word waarskynlik beskerm.

Tou is baie veelsydig en belangrik as jy nie skroewe of spykers het nie. ‘n Struikie soos die harige toubas (Triumfetta pilosa) het ‘n baie taai bas en stroke kan afgesny word en as tou gebruik word. As jy bietjie tyd het, kan jy baie goeie tou vleg van die binnebas van verskeie bome. Deur ‘n breë strook van die buitenste deel van ‘n boom af te kap en die dooie buitebas te verwyder, vind jy die binnebas. Dit is ‘n dun lewendige lagie buite om die boom wat baie veselryk is. Die vesels word dan opgebreek om die tou mee te vleg. Laat egter genoeg bas oor sodat die boom kan herstel en aanhou groei!

Termiete speel ‘n belangrike rol in savannastreke om dooie blare en hout te hersirkuleer. Navorsers het al bepaal dat in terme van biomassa, termiete meer weeg as al die groot herbivore soos buffels, sebras, en ander antilope saam. As jy dus ‘n paal vir ‘n heining in die grond sou plant, is die kanse goed dat dit binne ‘n paar maande gehersirkuleer is! Stompe van boekenhout (Faurea saligna), raasblaar (Combretum zeyheri) die harde hout van die vaalboom (Terminalia sericea) is termietbestand en word as heiningpale gebruik.

lood fotos 1458 (600 x 450)Bome is baie meer as hardeware. Die gewone trosvy (Ficus sur) se sagte, witterige hout word gebruik om dromme en maalbakkies te maak, maar die mooi boom is eintlik gesog vir sy groot rooi vye! Klapperbome is ook veelsydig. Die ryp vrugte is eetbaar en smaaklik en kan ook gestoor word. Die harde gedroogde doppe word gebruik as klankvesterkers vir musiekinstrumente, asook vir ornamente en om kerse mee te maak. Die hout is hard en word meestal vir vuurmaak gebruik.

Die groen pitte en ‘n wortelaftreksel van die doringklapper (Strychnos spinosa) word geneem vir mambabyt. Klapperbome bevat die gif strignien, vandaar die naam Strychnos. Mambagif onderdruk die sentrale senustelsel en strignien is blykbaar ‘n senuweestimulant wat dan die gif teëwerk! Die waterbessie (Syzigium cordatum) is ‘n baie mooi boom met lekker vrugte, maar die bas van hierdie boom word ook as ‘n visgif gebruik! Die hout is sterk en dien vir huisbou.

In die vroëe dae was daar ook ‘n oplossing vir indringers. Die kraalnaboom (Euphorbia tirucalli) word vandag nog as heining aangeplant. Die giftige melksap hou indringers uit want dit brand die vel, veroorsaak blase en kan selfs blindheid veroorsaak. Hierdie heining hou blykbaar ook molle, renosters en muskiete weg! Dis net enkele produkte uit hierdie groot natuurlike hardewarewinkel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button