Sport

Bokke se toets maak kinderdroom ‘n werklikheid

Die Bokke se aanvanklike agterstand het my skoon mismoedig gehad, maar my pa het my van kleins af geleer dat 'n game nie verby is voor die skeidsregter nie die eindfluitjie blaas nie

MBOMBELA – My pa was een van vyf broers, maar sou later in ‘n haan onder die henne ontaard. Hy het drie meisiekinders, soos hy na ons verwys, en drie kleindogters.

Hy het nooit ‘n seun gehad met wie hy sy liefde vir rugby kon deel nie. Ek was maar die tomboy wat saam met hom jagveld toe is en het van kleins af Saterdae saam met hom die rugby op TV gekyk. Dan sou hy my alles van die spel leer wat ek vandag weet.

Ek was die enigste dogtertjie in my klas wat geweet het ‘n drie tel vyf punte, ‘n doelskop twee en ‘n strafskop drie. Ek het selfs geweet dat ‘n drie donkiejare gelede net drie punte getel het, vandaar die verwysing na dit as ‘n “drie”.

My pa is ‘n stoere Leeus-ondersteuner en skaar hom natuurlik volledig agter die Bokke. Hy het my vertel hoe hy en my oupa na wedstryde op Ellispark gaan kyk het – gesuit en getie. Ek kon hulle in my geestesoog daar sién sit. En daar het my droom begin – om eendag as ek groot is saam met my pa ‘n Springboktoets by ‘n stadion te gaan kyk.

Die Bokke het verlede jaar hier uitgedraf en ek het reeds vroeg kaartjies vir my en my pa gekry. Onvoorsiene omstandighede het egter veroorsaak dat ons nié die wedstryd kon bywoon nie en ek het maar die kaartjies verkoop.

Laeveld Media het ‘n sekere aantal kaartjies vir Saterdag se toets vir belangrike kontakte en rolspelers in die mediabedryf geoormerk. Só het groepredakteur Irma Green my en my pa persoonlik genooi om Saterdag se toets teen Wallis mee te maak.

Ons is eers vooraf in Stabilis se losie met die heerlikste sushi en ander eetgoedjies bederf. My pa het na buite beweeg en getuur oor die veld soos die stadion begin vol raak het van toeskouers. Hy het elke oomblik ingeneem en die spelers onder wat besig was om skoppe te oefen en op te warm, met groot belangstelling dopgehou. Hy het my reeds vroeg gewaarsku dat ons nie so maklik met die Walliesers sou afreken soos verlede naweek nie – en hy was reg. Hy het selfs reg voorspel dat ons met slegs een punt sou wen.

Ons het nie in die losie bly sit nie en het die wedstryd saam met duisende ander opgewonde ondersteuners op die pawiljoen gaan kyk. Ons het die beste sitplekke denkbaar gehad – in die A-blok van die westelike vleuel – net dáár by die tonnel. Ons kon aan die spelers vat toe hulle op die veld uitdraf, sou ons wou.

Toe ons opstaan om die volkslied saam met die skone Karlien van Jaarsveld te sing, gryp my pa my hand en klem dit vas. Toe weet ek – die oomblik is hier. ‘n Oomblik saam met my pa wat ek vir die res van my lewe sal koester.

Die Bokke se aanvanklike agterstand het my skoon mismoedig gehad, maar my pa het my van kleins af geleer dat ‘n game nie verby is voor die skeidsregter nie die eindfluitjie blaas nie. My pa leef hom in elke wedstryd in wat hy gade slaan op die kassie. Krul op in sy leunstoel en vou sy hande oor sy gesig as die Bokke se agterstand te groot raak. Kruip tot voor die TV as hulle na die doellyn snol met die bal.

Die uitdrukking op sy gesig Saterdag toe hy sy helde in aksie in lywende lewe kon aanskou, was soos die Mastercard-advertensies altyd sê: priceless. Ook vir my was dit ‘n ondervinding wat geld nie sou kon koop nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button