Local sportSport

‘n Passie vir skermsweef

Sy enigste wens is om nie so oud te wees nie, sê Anton Naude, wenner van die LSSC se jaarlikse skermsweefkompetisie wat onlangs in Barberton plaasgevind het. 

Laevelder het met Anton gaan gesels om uit te vind waar sy passie vir dié sportsoort vandaan kom. Hy het in 1988 van Pretoria na Mbombela verhuis, en erken dat hy nooit weer êrens anders sal wil bly nie. Aangesien hierdie sport baie gewild is in die Laeveld, het dit hierdie 52-jarige rekeningkunde-dosent by TUT, nie lank geneem om dit self te probeer nie. Na lang motivering en ‘n gesmeek, het hy in 1991, na vyf uur se oefening sy eerste vlug afgelê op pad na Lydenburg vanaf Skoenkop. Die vlug met ‘n gewone valskerm was ongeveer een minuut lank.

In 1995 het Anton besluit om hierdie passie met ander te deel, waarna hy ‘n instrukteur geword het. Hy reken dat ‘n mens iets moet doen om ‘n ekstra inkomste te verdien om sodoende aan die sport deel te neem aangesien die reiskostes en ander uitgawes veeleisend kan word. “Maar dit is elke sent werd. Dit is ongelooflik – elke vlug is ‘n uitdaging. Jy stel vir jouself ‘n mikpunt en weeg alles op voor jy gaan, en wanneer jy daardie mikpunt bereik, voel dit ongelooflik.” 

Deel van Anton se voorbereiding is om te kyk na sekere tekens wat die natuur bied. Dit sluit in die manier hoe swaeltjies vlieg, en hoe ondermeer rook en blare beweeg. Deur te kyk na hierdie tekens kan daar bepaal word waar die ideale plek is om te vlieg, wat bepaal word deur die beste lugstroom. 

Anton reken dat een van die heel beste aanwysers vir lugstrome aasvoëls is. “Dit is ook een van my gunstelingdele van skermsweef – om langs ‘n aasvoël te vlieg, dit kyk vir jou en net wanneer jy dink dit gaan weg van jou af sweef, begin dit rustig in gelid saam vlieg.” 

Maar net soos alle ekstreem sport, het skermsweef ook sy gevare. Anton het tydens die 1997 Wêreldkampioenskap effe te meegevoer geraak, te laag gevlieg en ‘n klip getref. Dokters het gesê hy sal nooit weer kan vlieg nie. Anton vertel hoe hy sy elmboog so hard teen ‘n klip gestamp het, dat die beentjie deur sy skouer forseer is. Hy was vir nege weke op die grond, en na die tiende week kon hy weer sweef. “Danksy ons land se mediese ouens, was ek gou weer in staat om my passie voort te leef.”

Dit was die enigste keer wat hy geval het, en hy dank sy sterre dat dit nie sy laaste vlug was nie. “Ek onthou meer hoe dors ek was, as wat ek die pyn onthou,” sê Anton. “Die ergste van als was dat ek nie kon water drink nie, as gevolg van die narkose wat later sou volg.”

Dit het niks verander aan sy droom om die wêreldkampioenskappe te wen nie. “Dis nou as ek ooit vanjaar se span haal,” het hy vertel.

Anders as dié droom, wil hy eendag vanaf Maputo tot in Inhaca-eiland vlieg. Dit is ongeveer 32km oor die see en 84km langs die kus, teen ‘n spoed van tussen 30- tot 60km/h. “Ek het geen begeerte om meer as 60km/h te vlieg nie, maar moet my nie dare nie.”

Hy het reeds ongeveer 6 000 vlugte afgelê met meer as 3 000 uur agter die rug. Hy is reeds sewe keer vir die nasionale span gekies en het by talle geleenthede as skermsweef-kampioen in Barberton weggestap. Wat maak hom goed in wat hy doen? Sy studente reken dat dit sy rekeningkundige-aanleg is, maar hy reken dis blote geluk.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button