Plaaslike vegter wen sy eerste grote
Botes het vir Baldwin Mdlalose voor 'n skare van by die 7 000 juigende toeskouers in die Coca-Cola Dome in die tweede ronde met 'n onderwerping (submission) geklop en sodoende sy profiel in die organisasie aansienlik verhoog.
“Ek is deur hel in my oefenprogram en dit is als sy skuld, daarom haal ek al my aggressie op hom uit.”
Dit is die gevegsfilosofie van Lourens Botes, ‘n bekende Laeveldse professionele gemengde gevegskuns-vegter wat hierdie maand sy eerste oorwinning in die bekende EFC (Extreme Fighting Championship) Africa behaal het.
Botes het vir Baldwin Mdlalose voor ‘n skare van by die 7 000 juigende toeskouers in die Coca-Cola Dome in die tweede ronde met ‘n onderwerping (submission) geklop en sodoende sy profiel in die organisasie aansienlik verhoog.
“EFC Africa is die grootste in gemengde gevegskuns in Afrika. Hulle kontrakteer jou vir vier gevegte en hernu dit in verhouding tot die krag en gewildheid van jou vertonings. Sosiale media bepaal soms watter ouens teen mekaar veg,” sê Botes.
EFC word elke jaar groter en lok baie belangstelling met sy prominente bemarking en aanbieding van so ‘n skouspel. Op ‘n aand is daar vier of vyf hoofgevegte en dan sewe tot agt ondersteunende items. Die titelgeveg is die hoofaantreklikheid en word wyd op televisie, radio en ander media bemark.
Botes se liefde vir gemengde gevegskuns het begin by die Karate Kid-flieks wat hy as seuntjie gekyk het. “Ek het karate gedoen toe ek 10 jaar oud was. Ek het later my swart gordel verwerf, maar die probleem met karate is dat dit nie regverdig is nie.”
“Ek is nie ‘n groot ou nie en dan moet ek teen manne veg wat twee keer my grootte is, net omdat hul ook ‘n swart gordel het. Dit was vir my onregverdig.”
Hy en een van sy goeie vriende het toe met gemengde gevegskuns (MMA) by Trinity MMA in Mbombela begin. Botes is nou as afrigter by Rio Grappling betrokke. Hierdie sport is baie harde werk omdat mens vir vyf rondes wat uit drie minute elk bestaan, gefokus moet bly. “Ek het nie ‘n gunstelinggreep nie. In hierdie sport kry jy een of twee openinge en dan moet jy vat wat jy kry,” voeg hy ernstig by.
Botes moet vir seker sy aanvals- en verdedigingsgrepe ken en in so ‘n geveg presies kan uitvoer.
Sy pad na die EFC het in die amateurliga’s begin waar hy met verskeie oorwinnings en die Mpumalanga Fighting League se veergewigtitel spog.
Dit is nogal ‘n lang en uitgerekte proses om by EFC deel te neem omdat daar verskillende vereistes soos ‘n 70-per-sent wenpersentasie, asook ‘n praktiese
eksamen is.
“As jy goed genoeg is, kry jy jou professionele lisensie om deel te neem. Daarna is dit ‘n kwessie van sit en wag – soms vir vier maande – voordat hulle jou uitnooi om deel te neem.”
Verder kan ‘n mens in ander amateurliga’s deelneem wat goeie oefening vir die hoogste vlak is. Ek neem in verskeie grappling-kompetisies deel – soos die Witrivier-skopboksklub se toernooi waar ek hierdie maand goud gewen het.
Van al die kragmetings waarin hy al te staan gekom het, is daar drie gevegte wat vir hom uitstaan.
“Teen Marino Cutendana het ek in al vyf die rondes die oorhand gehad, maar ek kon hom net nie wen nie. Ek het hom in ‘n umaplata-skouerslotgreep gehad wat beslis enige iemand anders se arm sou gebreek het. Maar omdat hy so soepel was, kon hy dit weerstaan en toe betrap hy my onkant in die laaste ronde met sy wengreep.
My wen teen die gewilde Jasen van der Merwe was ook spesiaal omdat niemand gedink het ek het ‘n kans nie. In daardie geveg het ek gewys dat Mpumalanga baie talent het. Ek het hom in die tweede ronde op die mat vasgepen gehad en hy moes oorgee.
Die fisies moeilikste geveg was teen Pierre Botha, ‘n Springbokstoeier wat na MMA oorgeskakel het.
“Ons was altwee verskriklik uitgeput en het met ons knieë op die grond vir mekaar gestaar – dit was 15 minute van hel,” vertel Botes.
Die fisiese aard van die sport veroorsaak ook talle beserings waarvan ‘n gebreekte rib en ontwrigte skouer van die pynlikste was, volgens Botes.
Met die gebreekte rib kon ek nie asemhaal, lag, of lê nie. Daar is baie neuse wat bloei en lippe wat stukkend is, maar dit is als deel van die pret, sê hy met ‘n glimlag.
Natuurlik is spesifieke oefen- en dieetriglyne noodsaaklik omdat daar gewigskategorieë in gemengde gevegskuns is. “Ek oefen twee kee per dag, in die oggend en aand. ‘n Mens kry ‘n maand kennis voor ‘n geveg en dan oefen ek drie keer ‘n dag – oggend, middag en aand.”
“Ek volg Tim Noakes se nuwe dieet en dan, in die laaste week, het ek ‘n watersnyfase,” verduidelik hy.
Botes haal alle sout uit sy dieet uit en neem dan vis, slaai en groot hoeveelhede water in. Hy oorlaai homself eers met vyf liter water per dag en hou dan 24 uur voor die geveg op om enige water te drink sodat sy liggaam kan ontgif en die water kan afskei – beslis nie vir sissies nie.
MMA is ‘n sport wat blitsvinnig groei en ek sal graag in die toekoms op afrigting wil fokus.
“Dit is uiters bevredigend om te sien hoe mense wat gesukkel het om ‘n hou te gooi nou die slaansak doer laat trek. Ek lag altyd vir die beginners want dit herinner my aan hoe swak ek was toe ek begin het.”
Na ‘n lang dag is daar vir hom niks beter as om ‘n sak te gaan slaan en skop, en om dit saam met sy manne by Rio Grappling met ‘n lekker vegsessie af te sluit nie.
“In die kryt slaan en skop ons mekaar stukkend, maar ná die tyd drink ons ‘n bier en hou ‘n braai – dis die leefstyl.”
