Blitsbok keer terug na sy alma mater
Dié plat-op-die-aarde rugbyspeler se lang krullerige hare en liefde vir die natuur maak sy bynaam, Tarzan, baie gepas.

Die Blitsbok en oud-Hoërskool Nelspruiter, Werner Kok het vinnig ‘n draai in sy geboortedorp gemaak voordat die span op 26 Augustus vir die volgende toernooi wat in Oktober plaasvind, bymekaarkom.
Gedurende sy besoek, het hy saam met Hoërskool Nelspruit se eerste rugbyspan, die Rhinos tyd spandeer ter voorbereiding vir die halfeindstryd teen Hoërskool Monument wat Saterdag op NHS se velde plaasgevind het.
Die tuisspan het 24-19 gewen. “Ek is só trots op die manne.
Hulle het uitstekend gespeel en ek het voor die tyd in hulle oë gesien dat hulle die wedstryd gaan wen. In die kleedkamer het ek vir hulle gesê om elke oomblik te geniet, want hulle gaan nooit weer sulke lekker rugby in hulle lewe speel nie.”
Die 21-jarige vertel van sy beste herinneringe as jong rugbyspeler op skool. “Daardie gevoel toe ons die Mpumalanga-eindstryd teen Hoërskool Middelburg in gr.11 gewen het, was en is seker nog steeds een van my hoogtepunte.
Dit was ‘n goeie klomp spelers en meeste van ons was saam in die koshuis.
Alhoewel ek in Stellenbosch is en van die spelers tans op Tukkies studeer, gesels ons gereeld met mekaar. Die broederskap sal nooit verlore gaan nie.”
Die pragtige groen en warm Laeveld wat hy moet agterlaat gee hom sommer ‘n knop in die keel, as hy dink dat hy moet terugkeer na die koue en nat weersomstandighede in die Kaap.
Benewens om elke dag ‘n draai by die gimnasium te maak, is Kok gaande oor visvang, jag en kleiduif skiet.
As ‘n gesin gaan hulle jaarliks Mosambiek toe. “Ek en my pa, Pieter is gek oor diepsee-visvang. Ek het ‘n 21kg koningmakriel so rukkie terug uitgetrek en my pa se grootste vis, ‘n marlyn, het op 137kg ingeweeg.”
Die Blitsbokke het vanjaar vir die eerste keer goud by die Statebond Spele in Glasgow, Skotland verower deur Nieu-Seeland 17-12 te klop.
“Ons hele span is nederig en passievol. Ons het nie woorde na die oorwinning gehad nie. Dit het eers twee dae daarna behoorlik ingesink. Dit was ‘n ongelooflike spesiale oomblik in my lewe.”
Een van die spelers wat ook al sy kamermaat was, Chris Dry is ietwat onnetjies en volgens Kok lê sy klere altyd rond, maar al die manne is groot pelle.
Skotland het hom laat dink aan die Laeveld se pragtige groen omgewing en Nieu-Seeland se woude, see en die feit dat daar amper niks spinnekoppe of slange is nie, was vir hom prentjie-mooi.
“Kenya is seker een van die lelikste plekke waarheen ek al getoer het en ek hoop nie dat ons gou weer teruggaan soontoe nie.
Dit is ‘n vuil land, niks werk nie en die water is nie skoon nie.”
Kok en sy skoolliefde, Zanyika du Preez is steeds dolverlief op mekaar. Du Preez studeer fotografie in Stellenbosch.
