Stonehouse droom steeds om Superrugby-span af te rig
"Of ek die pos in Japan sou aanvaar het indien die poste daardie tyd beskikbaar was, is moeilik om te antwoord."

Jimmy Stonehouse, hulpafrigter van die Toshiba Brave Lupus in Japan, brand om ‘n plaaslike Superrugby-span af te rig. Oor ‘n voorkeur van een van die spanne, wil hy egter nie ‘n woord rep nie.
Skaars twee maande nadat een van ons land se mees onderskatte afrigters sy brood en botter elders gaan verdien het, het daar nie minder nie as vier afrigtingsposte op plaaslike bodem oopgegaan.
“Of ek die pos in Japan sou aanvaar het indien die poste daardie tyd beskikbaar was, is moeilik om te antwoord.”
“Dit sou beslis ‘n groot rol gespeel het omdat die unies weet ek wil graag ‘n Superrugbyspan afrig.”
Hoewel gerugte die rondte gedoen het dat die voormalige breier van die Steval Pumas belangstel in die poste by die Haaie, Bulle en OP Kings, wou hy dit nie aan Laevelder bevestig nie.
“My agent hanteer my rugbysake en het aangedui dat hy my CV na onderskeie unies gestuur het.” Hy het erken dat hy sekere vrae ontwyk omdat “dit nou in ‘n baie sensitiewe stadium is en dinge so bietjie deurmekaar kan krap”.
“Ek het niemand daarvan gesê nie. Die media het my geskakel. Ek het ‘n oproep van ‘n unie of twee ontvang wat wou weet of ek sou belangstel. Alhoewel ek ‘n tweejaar-kontrak in Japan het, is alles onderhandelbaar.”
Stonehouse kom Augustus vir die eerste keer sedert April terug na Suid-Afrika.
Stonehouse het verder uitgebrei oor sy nuwe lewe daar in die vreemde. “Dit gaan baie goed met my. Ek het maklik aangepas en geniet dit hier, maar ek mis my land, my mense en my taal.”
Die 51-jarige vertel verder dat hy ‘n paar spelers van Nieu-Seeland en Australië wat in vorige Rugbywêreldbekers gespeel het, afrig wat die taalsituasie makliker maak, maar dit bly steeds ‘n uitdaging.
“Ek gaan twee keer per week vir taallesse, maar dit is ‘n probleem. Die spelers het ‘n goeie werksetiek, handhaaf goeie dissipline en is nooit laat vir oefening nie,” lag Stonehouse. Hy het boonop in 2013 die beker vir afrigter van die jaar vir sy prestasies verower – sy span het 25 uit die 28 wedstryde wat hulle gespeel het, gewen en die SA Presidente-span wat ook deur hom afgerig is, was onoorwonne in die Tbilisi-beker.
Alhoewel hy nie nou wil uitbrei oor die moontlikheid dat hy kan terugkeer nie, het hy ons gesprek met ‘n boodskap aan die Pumas beëindig: Baie geluk aan MJ Mentz en sy span! Ek is regtig trots op julle en met die Laeveld se mense agter hulle gaan die jaar nóg groter wees.

