Uplands se seuns wéér kampioene
Clem Murray het die spyker finaal in Ermelo se doodskis ingeslaan met 'n doel vanuit 'n korthoekie in die laaste minuut van die stryd.

Uplands College se eerste seuns-hokkiespan is Dinsdag vir die derde agtereenvolgende jaar as Mpumalanga-wenners gekroon. Dit nadat hulle Ermelo 2-0 verslaan het.
Die span van Witrivier het in die afgelope drie jaar nog net een wedstryd teen die onderskeie Mpumalangaspanne verloor. “Sonder die ondersteuning van die ouers, ‘n holistiese speler-ontwikkelingsprogram, ‘n skool wat die atlete bystaan, ‘n span wat passie vir die sport het en ‘n ervare afrigtingspan, sou dit nie moontlik gewees het nie,” vertel die breier, Alex Gitlin trots.
Alhoewel die telling dalk na ‘n moeitelose oorwinning lyk, was dit alles behalwe maklik gewees.
Erries het ‘n lelike fout in hul doelsirkel begaan toe een van hulle spelers die agterkant van hul stok gebruik het wat tot ‘n strafhou gelei het. Uplands se Brandon Cordeiro het hiermee sy span se eerste doel met agt minute oor in die eerste helfte ingeklits.
“Ermelo het heelwat geleenthede vir hulself geskep met vinnige lyne. Ons benadering was om wyd te speel en die verspreiding van die bal deurgaans was ons resep tot sukses,” sê Gitlin.
Clem Murray het die spyker finaal in Ermelo se doodskis ingeslaan met ‘n doel vanuit ‘n korthoekie in die laaste minuut van die stryd.
Uplands het in die halfeindstryd teen Hoërskool Nelspruit te staan gekom en met 3-1 geseëvier. Twee van die doele was van goed-geoefende korthoekies aangeteken. Uplands se Murray het vroeg in die eerste helfte ‘n doel aangeteken.
Teen rustyd was die telling reeds 2-0 in Uplands se guns. As NHS meer geleenthede vir hulself geskep het en ‘n uitstekende hou bo-oor die doelhok ingemoker het, kon die telling heel anders gelyk het. Vier minute voor die eindfluitjie geblaas het, het Uplands se Tiree Canochie die laaste doel ingepen.
Die kampioene ding van 30 Julie tot 1 Augustus by Hoërskool Krugersdorp in die Noordvaal-toernooi mee.



