Local sportSport

Stoeier behaal vierde plek by Afrika Kampioenskappe

'n Jong stoeier het 'n wonderlike avontuur gehad toe hy aan die einde van verlede maand Egipte toe is om Suid-Afrika by die Afrika Stoeikampioenskappe te verteenwoordig.

Johny Smit, ‘n gr. 9-leerling van Hoërskool Rob Ferreira, het in die kadetkategorie (15-17 jaar) van die Grieks-Romeinse stoei deelgeneem en ‘n vierde plek in die 46kg groep behaal.

Morocco, Tunisië, Kenia, Algerië, Egipte en SA het deelgeneem en die Suid-Afrikaanse span het algeheel tweede geëindig.

Johny se ouers vertel dat baie mense verbaas was oor hul seun se prestasie, aangesien hy maar sedert Maart 2013 stoei en nog jonk en onervare is.

Sy broer, wat ook deelneem, is ‘n goeie oefenmaat en help hom om taai te word.

Johny sê dat Egiptenaars arm, maar taai mense is. “Hulle is gewoond daaraan om te veg om oorlewing. Hulle is die hardste ouens teen wie ek al ooit baklei het.”

Hy het sy kadetklere ontvang en sê dat dit sy eerste tree na die 2020 Olimpiese Spele is. Die jong stoeier mik ook om in sy laaste jaar as kadet ‘n goue medalje by die Afrika Kampioenskappe in te palm. Hy meen dat hy in Egipte baie ondervinding opgedoen het en sodoende ‘n beter stoeier is.

Volgens spelers van ander lande, het Suid-Afrika beter tegniek as hulle, maar moet hulle “harder” stoei en meer vreesloos wees. Sy afrigter, Hansie Kruger van die Nelspruit Stoeiklub, is baie trots op sy prestasie in Egipte, veral aangesien nie een van sy teenstanders hom kon vaspen nie.

Johny vertel dat Egipte omtrent ‘n avontuur was en dat hulle besienswaardighede soos die piramides besoek het.

“In Egipte is mash ‘n stapelvoedsel, hulle eet dit by als. En daar is yskaspoeding by elke ete,” sê hy. Hy het ook kameelkoekies geëet, maar sê dat dit nie lekker is nie.

Die groep is ook gereeld oorval deur mense wat selfies saam met hulle wou neem en hulle kon by sekere plekke glad nie na vreemdes kyk nie anders dink hulle jy wil iets koop. “Hulle het ons soos movie stars laat voel en daar is selfs bouncers gehuur.”

Die Smit-seuns se stoeiloopbaan is redelik veeleisend vir die gesin aangesien hulle baie Gauteng toe moet ry vir oefenkampe en kompetisies.

Dit maak hulle egter ‘n hegte gesin aangesien almal deel het aan die sport: Pa help met fiksheid en oefening en ma sorg dat hulle voedsame kos kry en die regte gewig handhaaf.

Johny is ook heel fluks, sê sy ma. Hy gaan draf blykbaar elke oggend vroeg en is baie getrou in sy oefening.

Benewens stoei, neem hy ook aan allerhande verskillende skoolsportsoorte deel aangesien dit hom help fiks bly. Hy was ook deel van Wildgeese Swemklub, aangesien swem help om sy liggaam te kondisioneer.

Johny is tans besig om vir die Kadet SA’s voor te berei wat van 2 tot 4 Julie in Menlyn plaasvind.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button